Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie soek vandale wat Rhodes-standbeeld onthoof

Die Wes-Kaapse polisie is op soek na die mense wat vermoedelik Sondagaand oornag die standbeeld van die 19de eeuse kolonialis Cecil John Rhodes teen die hange van Tafelberg in Kaapstad gevandaliseer en onthoof het.

Bewaarders van die Tafelberg- Nasionale Park het op die “koplose” standbeeld afgekom toe hulle Maandag die gebied aan die bopunt van die trappe by die Rhodes-gedenkteken gepatrolleer het.

Die gevandaliseerde standbeeld van Cecil John Rhodes teen die hange van Tafelberg in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Kol. Andrè Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê ’n saak van kwaadwillige saakbeskadiging is Dinsdag by die Rondebosch-polisie ingedien.

“Die omstandighede word ondersoek en niemand is in dié stadium nog in hegtenis geneem nie,” sê Traut.

Volgens Rey Thakhuli, waarnemende hoof van kommunikasie vir Sanparke, is die kop van die standbeeld tussen Sondagaand of Maandag in die vroeë oggendure afgekap, vermoedelik met ’n hoekslyper.

Die Rhodes-standbeeld het in 2015 ook tydens die RhodesMustFall-protesoptogte onder vandalisme van studente van die Universiteit van Kaapstad deurgeloop.

Op 9 April 2015 is Rhodes se standbeeld ná wekelange betogings by die Universiteit van Kaapstad met ’n hyskraan van die plek op die universiteit se terrein waar dit agt dekades lank gestaan het, verskuif.

Dit het gevolg nadat die universiteitsraad op ’n spesiale sitting eenparig besluit het om die standbeeld van die kampus af te skuif.

Die standbeeld is te midde van die Rhodes Must Fall-betogings van sy staanplek by die trappe na die Jammie-plaza agterop ’n vragmotor gelaai en na ’n geheime plek gebring.

Die gevandaliseerde standbeeld van Cecil John Rhodes.Foto: Jaco Marais

Tydens die betogings is aangevoer die beeld verheerlik ’n “rassis, imperialis, kolonialis en vrouehater”.

Cecil Rhodes het as stigter van die diamantmaatskappy De Beers groot rykdom opgebou en was tydens die Britse heerskappy die premier van die Kaapkolonie.

Wêreldwyd is standbeelde van mans, wat deur die ondersteuners van die #BlackLivesMatter-beweging as rassiste beskou word, die afgelope tyd betogers se teiken.

Veral standbeelde van slawehandelaars in Amerika en Brittanje is gevandaliseer en verwyder.

Duisende betogers het sedertdien oor die wêreld heen in optogte daarop aangedring dat monumente en standbeelde wat na hul mening rassisme verheerlik, verwyder moet word.

Meer oor:  Tafelberg  |  Kaapstad  |  Vandale  |  Standbeeld  |  Rhodes  |  Vandalisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.