Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Yolandi Botes: Polisie staak ondersoek oor bebloede kamer
Die raaisel oor die plasse en plasse bloed wat gevind is in die Oceanic Lodge in Kempton Park sal vir eers onopgelos bly. Foto: Deon Raath

Die polisie in Gauteng het vir eers die ondersoek gestaak oor wat moontlik in ’n gastehuiskamer gebeur het wat dit in ’n bebloede toestand agtergelaat het.

Dit volg nadat dit vroeër bekend geword het die DNS wat in die kamer gevind is, word nié verbind met die moord op Yolandi Botes nie.

Netwerk24 het vroeër berig die DNS-profiel van die bloed is die van ’n onbekende manlike persoon.

Kapt. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, het Vrydag by navraag gesê die ondersoek sal tydelik gestaak word terwyl daar aan Botes se saak gewerk word. Hy het ook die DNS-uitslae bevestig.

Die besluit is geneem omdat daar in dié stadium nie ’n liggaam is wat aan die toneel verbind kan word nie.

Volgens Masondo sal die saak heropen word indien nuwe leidrade na vore kom.

Die 35-jarige Botes is die laaste keer lewend gesien toe sy op 29 April van George na die O.R. Tambo-lughawe gevlieg het. Sy sou vir haar kinders gaan kuier, maar het nooit opgedaag nie.

Nege dae later het die soektog na haar geëindig toe dele van haar lyk op 4 Mei in die Vaalrivier naby Villiers in die Vrystaat gevind is.

Voor dit is die polisie na die Oceanic Lodge-gastehuis in Kempton Park ontbied oor plasse bloed in een van die kamers. ’n Bebloede mes is ook in die kamer aangetref.

Op die veiligheidskameras kon gesien word die kamer is deur ’n man in ’n kappietop gehuur.

Dié man in ’n donker kappietop het in die kamer gewoon wat later vol bloed gevind is. Foto: Skermgreep

Die man het die kamer verlaat sonder enige merkbare beserings met ’n sak wat soos ’n skootrekenaarsak lyk.

Masondo kon nie sê of dié beeldmateriaal deel gevorm het van die polisie se ondersoek nie.

Odette van Staden, deel van Mike Bolhuis se ondersoekspan, het die DNS-uitslae verwelkom.

“Gissings hieroor kan nou gestaak word en ’n mens kan ander leidrade opvolg,” het Van Staden gesê.

Botes se familie het vroeër aangekondig dat ’n beloning van R50 000 uitgeloof is vir enige leidrade wat kan lei tot ’n inhegtenisname van die moordenaar/s.

Volgens die inskrywing op Facebook oor die beloning word Botes se trouring en hangertjie nog vermis.

Die bloed op die vloer van ’n kamer in die Oceanic Gastehuis naby die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park. Foto: Heleen Rossouw/Kempton Express
Die toestand van die badkamer in die gastehuis. Foto: Heleen Rossouw/Kempton Express

Meer oor:  Yolandi Botes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.