Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie verloor misdaadstryd in Limpopo – DA

Dit is duidelik dat die polisie die oorlog teen misdaad in landelike gebiede in Limpopo verloor met minstens vier plaasaanvalle wat die afgelope week in die provinsie aangemeld is.

Skaafmerke en stukkende plekke op Bert Kotzé (48), ‘n boer van Tinmyne naby Mokopane, se arms en hande nadat hy op sy plaas aangeval is.Foto: Verskaf

So sê Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, ná die skietdood Saterdag van Jeremias (January) Macheque (39), ’n voorman op die sitrusplaas van die JJ Bekker-boerdery in Toitskraal buite Marble Hall.

Macheque is drie keer in sy bors geskiet terwyl hy lone aan werkers op die sitrusplaas uitbetaal het.

Jeremias Macheque (39), ’n plaasvoorman van Marble Hall in Limpopo, is Saterdag doodgeskiet toe hy lone aan werkers betaal het. Foto: FACEBOOK/Jeremias Macheque

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê Macheque het in sy rooi Toyota-bakkie gesit en werkers hul lone betaal toe hy geskiet is.

Hugo Fouché, voorsitter van die Toitskraal Boeregroep, ’n reaksiegroep teen plaasaanvalle, het aan Marita Herselman gesê omtrent 60 plaaswerkers het in ’n tou gestaan en Macheque was besig om hulle te betaal. Hy het glo vroeër die dag geld vir die lone in Marble Hall gaan trek.

Die moordenaar het hom as ’n arbeider voorgedoen en ook in die ry gestaan. Toe hy voor kom, het hy Macheque trompop geskiet.

Mojapelo sê hy is uit die bakkie gepluk en nog drie mans, wat hulle ook as plaaswerkers voorgedoen het, het agterop die bakkie gespring en met die oorblywende lone gevlug. Die rooi Toyota-bakkie, waarby Macheque trots staan op foto’s op sy Facebook-blad, is later sowat ’n kilometer van die plaas gekry.

Nooddienswerkers is ontbied, maar Macheque is op die toneel dood verklaar.

Macheque het ’n minderjarige seun. Francois Bekker, een van die eienaars van JJ Bekker-boerdery, het Sondag nie op navrae oor die moord op Marcheque reageer nie. Niemand is in hegtenis geneem nie.

Die rooi Toyota-bakkie waarin Jeremias Macheque (39), ’n plaasvoorman, Saterdag naby Marble Hall in Limpopo doodgeskiet is. Foto: Verskaf

Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, het die moord op Macheque veroordeel en gesê sy hou “die regering en swak polisiëring” verantwoordelik vir die vlaag plaasaanvalle in Limpopo.

“Misdaad op die platteland raak beide landbouers en hul werkers. Elke boer is belangrik vir voedselsekerheid in die land en die landboubedryf is dikwels die ekonomiese hartklop en grootste werkverskaffer van plattelandse dorpe.”

In nog ’n plaasaanval is ’n egpaar van Houtboschdorp naby Haenertsburg Saterdagnag in hul huis deur gewapende rowers oorval.

‘n Skoenspoor van een van die rowers het Saterdagnag op ’n plaas buite Haenertsburg in Limpopo toegeslaan het. Foto: HPG

Drie gewapende mans het by die huis ingebreek en Hester Kietzmann met ’n pistool teen die kop geslaan. Sy en haar man, Ludwig, is vasgebind en met vuurwapens aangehou terwyl van die rowers die huis geplunder het. Minstens R16 000, wat onder ’n matras versteek was, is gesteel. Hul selfone is ook gesteel.

Elisa Sakuneka (48) wat by die Kietzmanns werk, is ook oorval en haar hande en voete is met kabelbinders vasgebind. Die kamer waarin sy woon, is ook geplunder en R1 900 is gesteel.

Mojapelo sê die rowers het ook ’n Sassa-kaart by haar gevat voordat hulle te voet gevlug het.

Heritage Protection Group (HPG) het dié spore gevolg nadat ’n egpaar en hul huishulp Saterdagnag op ’n plaas buite Haenertsburg in Limpopo aangeval is. Foto: HPG

Bert Kotzé (48), ’n boer van Tinmyne naby Mokopane, is Woensdagmiddag deur gewapende mans by ’n beeskraal op sy plaas oorval, aangerand, vasgebind en met ’n vuurwapen teen sy kop aangehou.

Dit is die tweede keer in minder as twee maande dat Kotzé op die plaas aangeval word.

“Ons het nog nie eens van die goed soos skootrekenaars wat in die eerste voorval gesteel is, teruggekry nie. Ek het ook van die mans herken as dieselfdes wat ons in Mei aangeval het.”

Kotzé het vir etlike ure vir sy lewe gevrees toe die aanvallers hom geblinddoek, met ’n breekyster oor die kop geslaan en toe in ’n watervoor gegooi het.

Nadia Gallet (39), sy vriendin, het bure ontbied toe dit donker word en hy nie huis toe kom nie.

Die rowers het gevlug toe hulle die ligte van die bure se bakkies sien.

Nadia Gallet (39), Bert Kotzé (48) en Simoné Gallet (12) van Tinmyne buite Mokopane in Limpopo is verlede week vir die tweede keer in minder as twee maande op hul plaas aangeval. Foto: Verskaf

“Ons lewe van dag tot dag. Behalwe die veiligheidsgevare op plase neem veediefstal skerp toe. Ek wonder soms of dit nog die moeite werd is om te boer,” sê Kotzé.

Hy is diep gelowig en glo dat die Here in beheer is.

Verlede Sondag (19 Julie) is Pine Pienaar (65) op die plaas Langverwacht in die Dwaalboom-distrik oorval toe hy wou gaan kyk hoe vol ’n plaasdam is. ’n Man het hom met ’n skroewedraaier aangeval.

Pienaar het sy pistool uitgepluk en die man, wat volgens die polisie ’n geestesversteuring het, in sy een been geskiet. Die man is in hegtenis geneem.

Meer oor:  Jacques Smalle  |  Marcelle Maritz  |  Marble Hall  |  Mokopane  |  Limpopo  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.