Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie ‘verloor veld’ teen misdaad

Die toename in die voorkoms van verskeie soorte misdaad, veral moord, wys daarop dat die polisie veld verloor in sy stryd om misdaad in Suid-Afrika onder beheer te bring.

Dít is die reaksie van opposisiepartye en organisasies nadat Bheki Cele, minister van polisie, Vrydag op ’n mediakonferensie in Pretoria die kwartaallikse misdaadstatistieke vir die eerste drie maande van die jaar bekend gemaak het.

Daarvolgens is 4 976 mense van Januarie tot einde Maart in die land vermoor. Dit is ’n styging van 8,7% teenoor die ooreenstemmende tydperk die vorige jaar.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die syfers is kommerwekkend, en so ook die moord op 24 polisiebeamptes in hierdie tydperk.

“Elf lede is vermoor terwyl hulle aan diens was. Dit is ’n gevaarlike tendens wanneer ’n land se polisiemag self die teiken van misdadigers word, en toon ’n minagting vir diegene wat die landswette moet toepas,” sê Groenewald.

Luidens die statistieke is elf mense in plaasaanvalle in die betrokke drie maande dood. Vier van hulle was boere of plaaseienaars.

Volgens Groenewald is die “ongehoorde skerp styging” in moorde in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal met onderskeidelik 21,5% en 16,9% veral kommerwekkend en vereis dit aandag.

“Ewe kommerwekkend is dat 1 327 van die 4 976 moorde vanjaar (landwyd) in die slagoffers se eie woning plaasgevind het. Misdade in hierdie verband is die mees gevreesde van alle misdaad aangesien nie eens die veiligheid van mense se eie woonplek hulle kan vrywaar nie,” sê hy.

Andrew Whitfield, DA-woordvoerder oor die polisie, sê hoewel verkragtings ’n klein afname getoon het, is daar gemiddeld 105,5 mense per dag van Januarie tot einde Maart verkrag.

Ewe kommerwekkend is dat 1 327 van die 4 976 moorde vanjaar (landwyd) in die slagoffers se eie woning plaasgevind het. Misdade in hierdie verband is die mees gevreesde van alle misdaad aangesien nie eens die veiligheid van mense se eie woonplek hulle kan vrywaar nie.

Amnestie Internasionaal het in ’n verklaring gesê baie meer moet gedoen word om verkragtings te bekamp.

“Die strafregstelsel moet sy deel doen om te verseker dat daar gevolge is vir diegene wat hierdie afskuwelike misdade pleeg, en om seker te maak dat die slagoffer veilig voel wanner die voorvalle aangemeld word,” lui die verklaring.

Volgens die statistieke was daar ’n afname van 9% in alle aanrandingsvoorvalle, maar daar is nogtans meer as 75 000 gevalle in die drie maande aangemeld.

Wat die trio-misdaad betref, was daar ’n toename van 4,9% in motorkapings, rooftogte by woonhuise het met 372 gevalle toegeneem en rooftogte by sakeondernemings met 2,8%. Die kaping van voertuie wat vrag vervoer, het met meer as 10% toegeneem met 354 vragmotors wat van hul vragte beroof is in die drie maande.

Op vrae van die media het Cele gesê die uitwissing van die agterstand met 208 000 DNS-toetse, sal help om moorde en verkragtings te takel deur die skuldiges deur forensiese ontledings vas te trek.

“Ons wil die agterstand binne die volgende 18 maande uitwis. Twee kontrakte is aangegaan vir die verbetering van die laboratoriums in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.”

Die minister sê die situasie is op die punt om omgekeer te word met prosesse wat aan die gang is vir die hersiening van kontrakte, die opknapping van laboratoriums en die aanstelling van meer forensiese werkers.

Die oorsaak van die meeste moorde kan volgens Cele toegeskryf word aan argumente of ’n bakleiery, gevolg deur rooftogte, gemeenskappe wat die reg in eie hande neem en bende- en -taxigeweld.

Ons wil die agterstand binne die volgende 18 maande uitwis. Twee kontrakte is aangegaan vir die verbetering van die laboratoriums in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.

Die meeste moorde is gepleeg in KwaZulu-Natal, gevolg deur Gauteng, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap.

Dr. Johan Burger, polisiekenner verbonde aan die Instituut vir Sekerheidstudies, sê DNS-toetse opsig self sal nie genoeg wees om die gety teen die hemelhoë moordsyfer in die land te laat draai nie.

Die polisie sal ook sy misdaadintelligensie moet opskerp en met die burgerlike samelewing en ander staatsdepartemente vir ’n geïntegreerde benadering moet saamwerk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.