Die polisie in Port Elizabeth wil die naasbestaandes opspoor van ’n man en ’n vrou wie se lyke op verskillende plekke in die stad gevind is.
Die oorledenes se identiteit is in dié stadium vir die polisie nog onbekend.
Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê beamptes wat Dinsdagaand patrolliewerk gedoen het, het ’n vrou se lyk naby die verkeersligte by die Cleary Park-winkelsentrum in Standford-weg gesien.
Daar was geen sigbare beserings aan haar liggaam nie.
Naidu sê die vrou het blou jeans en ’n donkerkleurige T-hemp aangehad en ’n serp om haar kop.
Enigeen wat die polisie kan help om die vrou te identifiseer kan sers. Edman Mandeka van die Gelvandale-polisiekantoor by 078 370 9785 of 041 402 2018 bel.
In Despatch het die polisie op ’n man se lyk in die bosse naby Perserverance afgekom.
Sers. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, sê die polisie is Maandag om 22:00 na die toneel uitgeroep.
’n Herder wat met sy beeste deur die bos gestap het, het op die man se lyk afgekom. Die lyk was reeds aan die ontbind.
Die man het ’n grys T-hemp met groen strepe en ’n blou oorpakbroek met weerkaatsende strepe daarop aangehad.
“Die polisie kon geen sigbare beserings sien nie,” sê Nkohli.
Enigeen met inligting oor dié voorval kan die speurders van die Despatch-polisiekantoor se bystandnommer,
082 441 7828, skakel, of die kantoor by 041 933 8000 bel.