Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie waak by sluipmoord-verdagte se hospitaalkamer

Die polisie waak buite die hospitaalkamer waar die verdagte in verband met die sluipmoordaanval op die SAUK se hoof-ouditbestuurder vir twee skietwonde behandel word.

Thami Zikode, wat ’n vuurwapen by hom gehad het, is ongedeerd.

Thami Zikode is Vrydagaand agtervolg toe hy ná werk die SAUK-gebou in Auckland Park verlaat het.

Kapt. Mavela Masondo, ’n polisiewoordvoerder, sê vier verdagtes het Zikode aangeval toe hy voor sy huis in Johannesburg stilgehou het.

Zikode, wat ’n vuurwapen by hom gehad het, is ongedeerd.

“Zikode het een van die aanvallers gewond toe hy teruggeskiet het, terwyl die drie ander van die toneel gevlug het,” het Masondo Sondag gesê.

Hy sê die drie verdagtes is steeds soek, en die polisie is besig om leidrade na te volg.

“Die verdagte wat aangekeer is, sal in die hof verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.”

Zikode is in 2017 by die uitsaaier aangestel. Hy was voorheen ook verbonde aan die kantoor van die ouditeur-generaal.

Bongumusa Makhathini, voorsitter van die SAUK-raad, het Vrydag aan Rapport gesê Zikode is aan die stuur van ’n “skoonmaak-operasie” by die SAUK om korrupsie bloot te lê.

Makhathini sê daar is verskeie verslae wat dui op korrupsie en wanbestuur by die uitsaaier.

Verskeie verslae oor korrupsie

“Ons het oor die 180 verslae wat ons moet deurwerk. Ons moet mense verantwoordelik hou en Zikode is aan die stuur van dié skoonmaakproses.

“Hy is nie afgeskrik nie. Hy is vasbeslote om met sy werk vol te hou, want dit is die regte ding om te doen,” het Makhathini aan Rapport gesê.

Die DA meen strenger veiligheidsmaatreëls moet toegepas word, veral aan diegene wat korrupsie by die SAUK wil blootlê.

“Die polisie moet beskerming verskaf aan hoërisiko-mense.

“Ons is bly dat ’n verdagte in hegtenis geneem is, maar dit is duidelik dat dit nie ’n geïsoleerde voorval is nie. Dit is ’n geköordineerde poging deur ’n korrupte netwerk wat nou blootgelê kan word,” het Phumzile van Damme, die DA se woordvoerder, Sondag in ’n verklaring gesê.

Van Damme sê dit is nie die eerste keer dat werknemers van die SAUK gedreig en geïntimideer word nie.

“Die DA sien uit na ’n deeglike ondersoek van die Thami Zikode-voorval en al die ander onopgeloste sake by die uitsaaier. Dit is die eerste stap om die SAUK te herstel tot ’n veilige plek vir alle werknemers.”

Zikode wou Sondag nie met die media praat nie.

Meer oor:  Sauk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.