Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie waarsku ná moord op 2 veiligheidswagte

Die polisie in Port Elizabeth het veiligheidswagte wat afleweringsvoertuie vergesel, gemaan om uiters versigtig te wees.

Dié waarskuwing kom nadat die veiligheidswag Riaan Koll (33) vroeër vandeesweek doodgeskiet is terwyl hy die vragmotor van ’n meubelhandelaar na New Brighton in Port Elizabeth vergesel het.

Dit kom enkele dae ná ’n soortgelyke voorval in Zwide.

Koll is Maandag in Dorastraat, New Brighton, dood verklaar nadat hy omstreeks 12:00 deur twee gewapende mans oorval is.

Hy is die neef van brig. Ronald Koll, bevelvoerder van die Motherwell-polisiegebied in die stad.

Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, sê Koll het ’n afleweringsvragmotor van ’n plaaslike meubelhandelaar vergesel voordat hy en die vragmotor deur agt gewapende mans in die straat voorgekeer is.

“Ses van die mans het die vragmotor voorgekeer, terwyl die ander twee reguit na Koll se BMW gestap het,” sê Beetge.

Koll is blykbaar onmiddellik geskiet en sy wapen en selfoon is toe gesteel.

Die vragmotorbestuurder en sy passasier is deur die gewapende mans uit die vragmotor gedwing en moes in ’n oop stormwaterdrein klim. Die vermeende rowers het in die vragmotor gevlug.

Beetge sê die vragmotor is later die dag ’n straat van die toneel af gekry. Meubels, ’n yskas en televisie is gesteel.

Die moord op Koll kom nadat Gert Gouws (47), ook ’n veiligheidswag, Vrydag in Zwide, ’n woonbuurt langs New Brighton, doodgeskiet is.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê Gouws het ’n bakkie bestuur, terwyl hy ’n afleweringsvragmotor van ’n meubelhandelaar vergesel het. Drie gewapende mans het Gouws omstreeks 11:00 in Ngonastraat, Zwide, oorval en in die kop skiet.

Sy gaspistool is in die voorval gebuit.

Henry van Zyl (51), die vragmotorbestuurder, was besig om te help met die aflaai van die meubels en is in die skietery in die maag getref.

Geen meubels is gesteel nie en die aanvallers het weggehardloop.

Volgens Naidu is Van Zyl later Vrydagmiddag in die hospitaal dood.

Niemand is teen Woensdagoggend vir Gouws of Van Zyl se moorde in hegtenis geneem nie.

Hoewel die polisie aanvoer dat die motief vir Vrydag en Maandag se voorval roof is, het die polisie ’n waarskuwing uitgereik aan veiligheidswagte wat afleweringsvoertuie vergesel om uiters versigtig te wees. Beetge sê dit wil lyk asof die veiligheidswagte vir hul wapens deur die rowers aangeval is.

Meer oor:  Veiligheidswagte  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.