Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie werp alles in stryd om De la Rey-beeld te kry

Die polisie in Lichtenburg werp alles in die stryd om die borsbeeld van die boeregeneraal Koos de la Rey te vind nadat dit die naweek van sy graf in dié dorp in Noordwes gesteel is.

Intussen het die die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) Woensdag plakkate in Lichtenburg opgesit waarin ’n beloning van R20 000 beloof word vir inligting wat lei tot die opsporing van die borsbeeld en/of die vermeende diewe.

Die plakkaat wat die FAK Woensdag in Lichtenburg opgesit het. Foto: Verskaf

Jan-Danie Malan, kultuurorganiseerder van die FAK, was Woensdag saam met Louis Pretorius, ’n agter-agter-kleinkind van De la Rey, by die Lichtenburgse speurtak. Malan was vol lof vir lt.kol. Venita Olivier en ao. Eunice Nortman, wat hulle ontvang het.

“Ons het uitstekende diens gekry.”

Malan sê die polisie beoog verskeie strategieë om die beeld op te spoor, maar Netwerk24 maak nie die besonderhede daarvan bekend nie omdat dit moontlik die ondersoek kan belemmer. Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, het bevestig ’n dossier van grafskending is geopen. Dié klag sluit outomaties die diefstal in.

Louis en sy broer, Wentzel, boer deesdae saam op hul oorgrootjie se plaas naby Lichtenburg. Hul ma, Rosina Pretorius, het ná die diefstal van die bronsbeeld deur die loop van Saterdagnag gesê die familie is hartseer en getraumatiseer daaroor. Sy het Sondag haar hart daaroor gaan uitstort by haar ouma Polly (De la Rey) Morkel se graf. Ouma Polly rus naby haar pa (genl. De la Rey) in die Lichtenburg-begraafplaas. Sy was baie geheg aan hom. Morkel het die familieplaas jare gelede op ’n veiling van ander familielede teruggekoop.

Genl. Koos de la Rey se geskende graf in die Lichtenburg-begraafplaas. Foto: Verskaf
Die graf en borsbeeld van genl. Koos de la Rey in die begraafplaas in Lichtenburg voordat dit geskend en gesteel is. Foto: Verskaf

Die boereheld se nasate is dankbaar teenoor die FAK dat hy aangebied het om ’n onvernietigbare replika van die borsbeeld te laat maak. Fanie Eloff het die oorspronklike beeld in 1917 gemaak. Jacques Müller, ’n beeldhouer van Pretoria, gaan die replika maak.

Die sanger Steve Hofmeyr het Saterdag die De la Rey’s se plaas en ’n ander standbeeld van hom in die Lichtenburgse middedorp besoek. Hy was in Lichtenburg vir ’n optrede by ’n plaaslike skool. Hofmeyr het foto’s van die plaashuis, asook De la Rey se standbeeld in die dorp, op Instragram gedeel. Hofmeyr het die volgende geskryf by ’n foto van die standbeeld (op die dorp) waarom gras slordig groei:

“Ons kan nie ons erfenis oorlaat aan die kaders nie. Hulle hou nie eers van hul eie geskiedenis nie. Skuif oom Koos terug na De La Rey-familiewoning buite Lichtenburg. Herbegrawe hom ook daar.”

Sy woorde was skaars koud toe De la Rey se graf later Saterdag geplunder en gevandaliseer is. Hofmeyr het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, gaan daar nie ’n naweek verby waar kultuurorganisasies en gemeenskappe nie op ses of sewe plekke in Suid-Afrika hard aan die werk is om ’n graf, monument of erfenisterrein te versorg nie.

“Afrikaners is beslis besig om opnuut eienaarskap vir ons erfenis te neem.”

• Ondersteun die FAK-Geskiedenisfonds en dra by tot die bewaring en bevordering van Afrikanerbeelde en monumente. SMS GENERAAL na 45730 (R1,50). Die FAK is ’n organisasie sonder winsbejag.

Meer oor:  Koos De La Rey  |  Lichtenburg  |  Boeregeneraal  |  Gesteel  |  Kopstuk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.