Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie wil glo eers nie help toe TV-span beroof is

’n Televisieverslagspan van die nuuskanaal eNCA wat Woensdag in Khayelitsha in Kaapstad van hul kameratoerusting en selfone beroof is, kla oor die wyse waarop ’n polisieman hulle kort ná die voorval behandel het.

Monique Mortlock, verslaggewer, en Asandu Javu, kameraman, het ’n regstreekse uitsending gedoen oor gebrekkige dienslewering in Khayelitsha en is net daarna deur vier gewapende mans gekonfronteer. Hulle was nog besig om hul toerusting op te pak nadat hulle die uitsending naby Japhta K. Masemola-weg oorkant ’n skool afgehandel het, toe die rowers hulle konfronteer.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA
Daar is gereeld betogings oor swak dienslewering in en om Khayelitsha. Foto: Jaco Marais

Hulle is nie in die aanval beseer nie, maar die rowers het met toerusting van R400 000 gevlug, het die polisie later bevestig.

Mortlock het getwiet wat gebeur het toe hulle na die naaste polisiekantoor is om die voorval aan te meld.

“Ons is sopas beroof. Nou moes ek en my kollega sukkel met ’n polisielid wat vir ons vertel ons kan nie die saak by die polisiekantoor indien wat slegs twee minute se ry is van waar die voorval gebeur het nie omdat dit nie in hul jurisdiksiegebied is nie.”

Toe sy aan die polisieman sê die voorval het “om die hoek gebeur”, het hy glo geantwoord hulle moenie so “op hom” wees nie.

Sy sê sy het vir hom gesê albei van hulle is getraumatiseerd. Hy het glo hierop gesê: “Ek is ook getraumatiseerd!”

Monique Mortlock Foto: Twitter/Monique Mortlock

Mortlock sê op Twitter sy belowe dat niemand geïrriteerd of onbeskof was nie.

“Ons was gefrustreerd, ja, en toe ek hom vertel dat ons joernaliste is, het hy ons na ’n polisielid met ’n hoër rang geneem.”

In daardie stadium het sy nog gewag om haar verklaring te maak, sê Mortlock.

Sy het later op Twitter gesê: “Almal is nou skielik baie vriendelik. Weet nie of dit is omdat ’n ander beampte bygekom het om te kom help en of dit is omdat ons van die media is nie.”

Mortlock is verskeie kere om kommentaar gebel, maar het nie haar selfoon geantwoord nie.

Kapt. F.C. van Wyk, polisiewoordvoerder, het die rooftog bevestig.

“Al vier mans het vuurwapens gehad en die slagoffers van hul toerusting en selfone beroof. Geen skote is afgevuur nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Oor die polisielid wat na bewering nie behulpsaam was nie, sê Van Wyk dit sal ook ondersoek word.

“Ons het interne prosesse wat gevolg moet word.”

Enigiemand met inligting word gevra om die tolvrye Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 te bel.

Meer oor:  Monique Mortlock  |  Kaapstad  |  Khayelitsha  |  Kameraspan Beroof  |  Rooftog  |  Polisieklagte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.