Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Formulemelk-arres: 'Pa het gronde vir 'n siviele eis'

Ja, dit is ’n misdryf om die aandklokreël te verontagsaam – behalwe as jy ’n permit of ’n veiligheids- of mediese noodgeval het.

Terwyl die polisie in die stadium weier om meer te sê oor die voorval waar ’n pa van Centurion in hegtenis geneem is toe hy in die nag na ’n noodapteek gery het vir ’n blik babamelk, word die optrede van die lede van die Wierdabrug-polisie wyd veroordeel.

Die pa het om ongeveer 01:00 Vrydagoggend inderhaas na die apteek by die Unitas-hospitaal gery om formulemelk vir sy twee dae oue dogtertjie te kry nadat sy vrou probleme met borsvoeding ondervind het.

Hy is, volgens Lily Rautenbach, sy prokureur, met sy terugkeer minder as 500 m van sy huis deur die polisie afgetrek. Hoewel hy die blik melk en die gedrukte kwitansie getoon het, is hy steeds in hegtenis geneem vir oortreding van regulasies ingevolge die Wet op Rampbestuur.

Die pa kon wel sy vrou bel, wat hul ander twee kinders alleen tuis moes los en met die pap baba na hom moes stap om die melk en sy voertuig te kry.

Die pa is eers om ongeveer 11:00 Vrydag op waarskuwing vrygelaat.

Hy moet later die maand in die hof verskyn.

Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, het kort ná die voorval gesê die polisie beskou die beweringe oor die inhegtenisneming in ’n “baie ernstige lig” en dat die provinsiale kommissaris, lt.genl. Elias Mawela, opdrag gegee het dat ’n dringende interne ondersoek gedoen word.

Met latere navrae oor die vordering van hierdie ondersoek, sowel as gerugte dat die betrokke polisielede voorlopig geskors sou word, het Peters egter net geantwoord: “Departementele prosesse is aan die gang in verband met hierdie aangeleentheid. Ons is egter nie by magte om in die openbaar oor departementele sake kommentaar te lewer nie.”

Veiligheidsgroep vra vergeefs vir ingryping

Die veiligheidsgroep Centurion Concerned Citizens (CCC), wat daardie aand probeer help het toe hulle hoor van die pa se inhegtenisneming, het ook ’n griewebrief aan die provinsiale kommissaris gestuur.

Hierin word verduidelik dat die baba op 6 Januarie gebore is. Die ma is op 7 Januarie ontslaan.

“Volgens die pa het die ma gesukkel om die baba te borsvoed. Die baba het siek geword weens die onsuksesvolle pogings tot borsvoeding,” lui die brief.

“Die ouers moes formulemelk vir die baba kry. Dit is iets wat hulle nie voorsien of beplan het nie omdat hulle hul baba met borsmelk wou voed. Die baba het tekens van dehidrasie begin toon en die pa moes, weens hierdie mediese noodgeval, formulemelk gaan koop.”

Dit verduidelik hoe lede van CCC daardie aand sonder sukses die stasiebevelvoerder van Wierdabrug, ander bevelvoerders en die gemeenskapsentrum probeer bel het om in te gryp.

Die brief stip dan puntsgewys uit: “Luidens die Wet op Rampbestuur wat op 29 Desember 2020 in die Staatskoerant gepubliseer is, mag ’n persoon tydens die aandklokreël wel sy huis verlaat vir ’n veiligheids- of mediese noodgeval. Dit is presies wat die pa gedoen het – sy siek, twee dag oue babadogtertjie het gesukkel met borsvoeding en dit was ’n saak van uiterse dringendheid dat hy formulemelk vir haar moes kry.”

Die CCC se brief lig ook nasionale opdragte aan polisielede uit wat voorskryf wanneer ’n persoon in hegtenis geneem moet word en dat dit meestal is om te verseker dat die persoon sy hofsaak sal bywoon.

“Die pa het nie ’n ernstige misdryf begaan nie en kon bewys daar was ’n mediese noodgeval. Dit is bevestig deur sy vrou wat met ’n twee dag oue baba in die donker tot by hulle moes stap om die melk te kry.

“Die polisielede was ongeveer 450 m van sy huis af – die perfekte plek om sy adres te bevestig,” het die CCC aangevoer.

“Hulle het sy ID en motor se registrasienommer gehad. Hy kon net daar gewaarsku en/of gedagvaar geword het om in die hof te verskyn, sonder dat hy toegesluit is.”

Voorts is verwys na verskeie klagtes vanuit die gemeenskap oor die Wierdabrug-polisiekantoor en dat inwoners nie meer die lede vertrou nie.

Die drukgroep Action Society het in ’n verklaring bygevoeg: “Die versorging van babas, kinders, ou mense en ander weerlose persone behoort nou, in ’n tyd waarin die Covid-19-virus weer ’n piek bereik, voorkeur te kry.”

Daleen Gouws, woordvoerder van die groep, sê die pa is soos ’n misdadiger behandel.

“Ons hospitale is onder geweldige druk met die gevolg dat pasgebore babas feitlik onmiddellik ontslaan word. Dit is geweldig moeilik vir ouers om te bepaal wat hul baba se behoeftes gaan wees,” lui die verklaring.

Die groep eis dat daar teen die betrokke polisielede opgetree word.

“Dit is ’n waninterpretasie van die wet dat ’n man in hegtenis geneem word omdat hy die aandklokreël oortree, maar dat dit vir die SAPD aanvaarbaar is dat sy weerlose vrou in die donker met ’n baba moet stap, ook buitenstyds,” lui Action Society se verklaring.



Gebruik goeie oordeel

Intussen is regskenners en veiligheids- en drukgroepe dit eens: Wetstoepassers moet goeie oordeel gebruik en in uitsonderlike gevalle soos dié nie net die regulasies blindelings toe te pas nie.

Adv. Francois Kriel sê vanuit ’n regsoogpunt is dit ’n misdryf om die aandklokreël te verontagsaam.

“Maar om formulemelk te koop by ’n hospitaal se noodapteek vir ’n (siek of andersins) twee dag oue baba, kwalifiseer myns insiens as ’n mediese noodgeval.”

Hy sê ’n regsbeampte kan iemand slegs in hegtenis neem as ’n misdryf voor hom gepleeg word of gepoog word om dit te pleeg.

“Daar moet aan die vereistes van ’n misdryf voldoen word, anders is die inhegtenisneming onregmatig. Waar ’n persoon formulemelk by hom het, met ’n strokie, en die feite aan die beampte verduidelik is, staan dit kwalik vas dat ’n misdryf gepleeg is,” verduidelik Kriel.

Volgens hom sal daar waarskynlik “dadels van ’n vervolging” teen die pa kom en het hy gronde vir ’n siviele eis teen die polisie vir onregmatige inhegtenisneming.

Dr. Guy Lamb, van die Universiteit Stellenbosch se department politieke wetenskap, sê dit was sedert die begin van die inperkings in Maart verlede jaar die norm dat noodsaaklike werkers en mense met noodgevalle kan reis.

“Die vraag sou wees of ’n persoon wel die aandklokreël verbreek het, maar weens uitsonderlike omstandighede – en dis waar die polisie hul diskresie en redelike oordeel moet gebruik.”

Lamb sê inhegtenisnemings soos in dié, en in ander gevalle, gebeur baie keer eerder weens ’n gebrek aan empatie by die wetstoepassers as weens ’n gebrek aan opleiding.

“Hul optrede word ook bepaal deur hoe hulle deur bevelvoerders oor die regulasies ingelig is en opdragte wat gegee is oor hoe om dit toe te pas,” verduidelik hy.

Volgens Lamb is daar wel gevalle waar polisielede rigied optree, hul mag misbruik of bloot gefrustreerd is omdat mense nie wil luister nie en dan haal hulle dit op ’n persoon uit.

“Daar is baie keer ook ’n gemilitariseerde dinamika onder die polisie, weermag en metropolisielede.”

“Die reëls van die inperking is besig om in ’n magspel te ontaard. Voorwaardes rakende die inperking en menslikheid behoort duideliker aan die SAPD deurgegee te word. Te midde van die krisis behoort polisielede steeds menslik op te tree, die veiligheid van sy landsburgers op die hart te dra en ’n ondersteunende rol te vervul.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Aandklokreël  |  Wierdabrug  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.