SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie ‘wys ma wat wil kla oor foto’s weg’

’n Vrou van Bronkhorstspruit wat Donderdag ’n klagte teen ’n stoei-afrigter van Bronkhorstspruit wou indien nadat die man suggestiewe foto’s van haar seun op sy webblad gepubliseer het, is deur die polisie weggewys.

Die foto van twee seuns in Neville Randall se agterplaas wat die ma ontstel het. Foto: Facebook

Die ma van ’n 11-jarige wou ’n klag aanhangig maak teen Neville Randall, wat die sogenaamde Fighting Kids-klub op die dorp bedryf. Rapport het die afgelope twee weke berig dat Randall kinders betaal om vir hom (in hul stoeiklere) te poseer in seksueel suggestiewe posisies. Hy verkoop dan hierdie foto’s op sy webblad.

Die vrou (haar identiteit word weerhou om haar minderjarige seun te beskerm) het Randall gevra om die foto’s van haar seun van die webblad te verwyder, maar sê hy het nie aan haar versoek voldoen nie.

Sy is toe polisie toe. “Die polisie het gesê dis ’n siviele saak, hul hande is afgekap, maar wat ek nie verstaan nie, is dat hulle nog steeds gesê het daar is nou op ’n hoë vlak ’n ondersoek aan die gang nadat die media oor die klub berig het,” sê die ma.

Wie die ondersoek behartig, wou niemand vir haar sê nie. “Die polisieman het net gesê ’n ‘vrou van ’n spesiale eenheid in die polisie gaan my bel’. Teen gister het dit nog nie gebeur nie.”

‘My seun se foto’s is oral.’

Rapport se berigte die afgelope twee weke oor Randall se bedrywighede het die vrou talle foto’s van haar seun op die internet gevind. “My seun se foto’s is oral. Selfs op webwerwe waar al die inhoud in Chinees is,” sê sy.

Wat haar egter die meeste ontstel, is wat sy op Facebook gesien het. “Ek het in Rapport gelees van Aaron Lautner, wat met Randall vriende op Facebook is. Toe het ek na hierdie man se vriende gaan kyk, Neville se eie Facebook bestaan nie meer nie. Dis skokkend wat ek daar gekry het.”

Rapport het twee weke gelede berig dat daar op Lautner, wat ’n klant van Randall blyk te wees, se blad talle foto’s soortgelyk aan dié op die Fighting Kids-blad is. Een daarvan dra ook die Fighting Kids-logo. Die kommentare van ander gebruikers hierop is dikwels suggestief en seksueel van aard.

“Lautner se een Facebook-vriend se naam is Jerry, hy het geen van nie. Amper al die foto’s op sy Facebook is van mans wat mekaar met messe en swaarde in die maag steek,” sê die ma.

“Daar is ’n foto van twee seuns in Neville se agterplaas. Op die foto lê een seun op die grond terwyl ’n ander een hom met ’n lang plastiek­swaard in die maag steek. Hoe de hel is dit selfverdediging?” By die foto van die twee seuns sê ene Rione Pratama Hryono: “Ten minste voel hy die genot van om gesteek te word.” Jerry antwoord: “Hy geniet dit beslis wanneer die swaard by sy maag ingaan.”

Jerry self het gisteraand laat op Rapport se boodskappe oor Facebook gereageer. “Ek het nie hierdie foto gekoop nie. Iemand het dit op Facebook gedeel en ek het dit van daar af gedeel,” het Jerry gesê. Daarna het hy nie weer op enige vrae gereageer nie.

Brig. Mothapelo Peters, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het verlede week aan Rapport gesê daar was al drie ondersoeke na Fighting Kids se bedrywighede, maar die polisie kon nooit enige bewyse van ’n misdryf vind nie. Die eerste daarvan was in 2008.

“ ’n Dringende ondersoek deur deskundiges van die eenheid teen gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe is (destyds) gedoen. Die uitslag van dié ondersoek, wat ’n klopjag en beslaglegging ingesluit het, was dat daar geen bewyse is wat die aantygings, wat deeglik deur speurders ondersoek is, ondersteun nie.” Die afgelope week het sy nie op Rapport se versoeke om kommentaar gereageer nie.

Rapport se eie bronne in die polisie het die afgelope week gesê “daar is in hierdie stadium geen ondersoek aan die gang nie, maar die moontlikheid kan nie uitgesluit word dat een nou gaan begin nie”.

Randall het Rapport na sy prokureur, Antonie Venter, verwys. “Ek het nog nie ’n behoorlike konsultasie met my kliënt gehad nie. Ons het ’n afspraak môre. Dan sal ons oor die pad vorentoe besluit,” het Venter Saterdag gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.