Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisiehond snuffel vermeende aanvaller in voëlnes uit

’n Plaasaanvaller wat ’n dag lank in ’n versamelvoëlnes in Namibië weggekruip het, kon nie ’n wakker polisiehond uitoorlê wat sy spoor gevolg en hom uitgesnuffel het nie.

’n Vermeende plaasaanvaller het ’n dag lank vir die polisie en boere in ’n versamelvoëlnes in ’n boom in Namibië weggekruip totdat ’n polisiehond hom uitgesnuffel het. Foto: Facebook/Informanté

Dit kom nadat die bejaarde Andries van Vuuren (76) en sy vrou, Nina, na bewering op hul plaas Kentani in die Kalkrand-omgewing, suid van Mariental, deur drie werkers aangeval en ernstig aangerand is.

Van Vuuren het ses gebreekte ribbes en ’n oogbesering opgedoen en is na die hospitaal in Windhoek geneem, waar sy toestand stabiel is.

Twee van die vermeende aanvallers is Woensdag ure ná die aanval vasgetrek waar hulle met die boer se voertuig probeer vlug het. Die derde is Donderdagoggend in die nes in ’n kameeldoringboom gekry.

Die Namibië-landbou-unie (NLU) het die optrede van die polisie, boere en sekere individue geloof.

Thinus Pretorius, voorsitter van die gesamentlike misdaadvoorkomingsforum, sê “danksy die flinke optrede van die gemeenskap en polisie is twee aanvallers vinnig in hegtenis geneem, en die derde een Donderdagoggend”.

Luidens ’n berig op die nuuswebwerf Informanté het een van die aanvallers sewe maande op die plaas gewerk en die ander twee was pas aangestel.

Die drie mans het ook ’n ander plaaswerker in sy huis ’n ent van die plaaswerf af aangeval en vasgebind.

John Lifasi, polisiekommissaris, het gesê hulle ondervra die verdagtes om uit te vind wat hul motief was.

Lt.genl. Sebastian Ndeitunga, inspekteur-generaal, het die dapperheid van die egpaar en die boeregemeenskap geloof. Hy het ook die polisielede, en veral die lugeenheid, bedank.

Die gemeenskappe van Kalkrand, Hoachanas en Uhlenhorst het die polisie in die soektog ondersteun.

Die polisielede en die lugeenheid op die toneel waar ’n vermeende plaasaanvaller in ’n versamelvoëlnes in ’n boom weggekruip het. Foto: Facebook/Informanté
Andries van Vuuren se voertuig waarmee twee aanvallers probeer vlug het. Foto: Facebook/Informante

Die Republikein berig dat die mans Van Vuuren aangeval het waar hy sy skape gevoer het. Hulle het hom met draad vasgebind, geslaan en geskop. Die mans het Nina in die tuin aangeval en vasgebind, maar sy het haarself losgewikkel en na die huis gehardloop waar sy haarself toegesluit het. Sy het die bure en ander boere ontbied.

Die aanvallers het intussen in die egpaar se bakkie gevlug.

’n Groep boere wat in die omgewing by ’n boerevereniging vergader het, het dadelik opgetree en hul voertuie dwars oor die pad tussen Uhlenhorst en Rehoboth getrek.

Die bure wat na die aanvallers gesoek het, het die voertuig op die pad gesien. Hulle het twee van die bakkie se bande stukkend geskiet en twee van die vermeende aanvallers aangekeer. Die derde man het na Kalkrand gevlug.

Die polisie het hom in voertuie en ’n helikopter agtervolg.

Meer oor:  Nina Van Vuuren  |  Andries Van Vuuren  |  Namibië  |  Kalkrand  |  Plaasaanvaller  |  Voëlnes  |  Polisiehond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.