Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
SA amper soos 'n 'oorlogsone'

Suid-Afrika “is amper soos ’n oorlogsone” in die lig van die 57 moorde wat daagliks in Suid-Afrika gepleeg word, het Bheki Cele, minister van polisie, gesê.

Hy het dié opmerking Dinsdag by die parlement gemaak kort voordat die polisie die misdaadstatistieke vir die 2017-’18-boekjaar bekend gemaak het.

“Die misdaadstatistieke is niks om oor huis toe te skryf nie. Altesaam 57 Suid-Afrikaners word per dag vermoor. Dit is amper soos ’n oorlogsone terwyl daar vrede en geen oorlog in Suid-Afrika is nie,” het hy gesê.

Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdag in die parlement. Foto: Jaco Marais

Die getal moorde het toegeneem tot 20 336 teenoor 19 016 in die vorige boekjaar. Dit is ’n toename van 1 320, oftewel 6,9%. Poging tot moord het toegeneem tot 18 233 voorvalle in die huidige boekjaar teenoor 18 205 in die vorige boekjaar.

Verkragtings het gestyg van 39 828 tot 40 035, terwyl seksuele aanranding toegeneem het vanaf 6 271 tot 6 786.

Die polisie het met dié syfers “die bal laat val”, het Cele gesê. “Ek het vir die polisie gesê ons kan nooit weer hierheen kom om sulke statistieke weer te gee nie. Sulke statistieke of erger. Suid-Afrikaners kan nie aan sulke stres, vrees en moord blootgestel word nie,” het hy gesê.

Hy en die topbestuur van die polisie het hul “koppe op ’n blok” gesit dat die misdaadsyfer volgende jaar laer sal wees as vanjaar.

“Ek plaas ons koppe op die blok. In elke bestuurspan is daar gevolge. As jy ’n dosyn brode per dag in jou fabriek moet bak, en jy lewer net die helfte, kan jy nie jou werk behou nie. Dit kan nie wees nie. So, as die Grondwet vir ons ’n opdrag gee en ons doen dit nie, moet alle koppe op die blok wees.”

Hy het gesê daar sal weer na alle prestasieooreenkomste met die topbestuur gekyk moet word. Elke lid van die topbestuur het ’n ooreenkoms met hom onderteken en hy het een met die president onderteken.

“So, namens die regering van Suid-Afrika plaas ek die polisie se kop op die blok om seker te maak Suid-Afrikaners kry die nodige diens.”

Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het gesê die syfers vir plaasmoorde word vanjaar afsonderlik bekend gemaak in antwoord op versoeke daarvoor.

Volgens die polisie se syfers is 62 moorde in die afgelope boekjaar op plase en kleinhoewes gepleeg. Van dié moorde was 49 die eienaars of bewoners, nege was plaaswerkers en een was ’n plaasbestuurder.

Suid-Afrika het volgens Cele nog nie ’n vlak van wetteloosheid bereik nie.

Hy het gesê die Wes-Kaap besorg hom baie hoofpyne, weens probleme met toeganklikheid wat polisiëring betref. Hy het daarop gewys dat Helen Zille, Wes-Kaapse premier, opgehou het om te vra dat die weermag in geweldgeteisterde gebiede ontplooi word.

“In die Wes-Kaap is dit nie ’n kwessie van die weermag nie. Dit is ’n kwessie van hoe die omgewing ontwerp is. Maak dit reg. Maak die huise reg. Maak die ligte reg, maak die paaie reg. Waar het jy gesien die gemeenskap staan in rye om toilette te gebruik? Bou toilette en hou op om vir die weermag te vra. Mense het toilette nodig, nie die weermag nie,” het hy gesê.

Hy wou hom nie uitlaat oor die afname in seksuele misdrywe nie, want hy is nie seker of daar minder voorvalle was en of dit ’n geval is van mense wat nie die misdade aanmeld nie.

Hy het toegegee dat die polisie “die bal laat val het” wat betref vroue wat misdade by die polisie aanmeld. Een manier om dié probleem te oorbrug is om eenhede te versterk deur meer opgeleide vroue aan te stel.

Sitole het gesê as enige polisiekantoor ’n vrou nie help nie, kom dit op ernstige wangedrag neer ingevolge die polisie se gedragskode. Daar sal dadelik teen beamptes opgetree word wat hulle daaraan skuldig maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.