Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisielede gee taxigeld aan slagoffer ná hulle rowers vang

Dit was nie net die feit dat twee polisiekonstabels Dinsdag sonder huiwering nadergestorm het toe “gewapende” rowers ’n man aangeval het, wat gewys het waarvoor die “diens” in Suid-Afrikaanse polisiediens staan nie.

Hulle het daarna ook die gestrande slagoffer uit hul eie sak met taxigeld gehelp omdat hy sy beursie in die rooftog kwyt is.

Kapt. Xoli Mbele, polisiewoordvoerder, sê die 37-jarige winkelier het Dinsdag al die pad vanaf eMalahleni (Witbank) in Mpumalanga na Johannesburg gereis om voorraad van selfoonlaaiers en pette vir sy onderneming aan te koop.

Hy was net voor 11:00 daarmee klaar en op pad om ’n taxi terug huis toe te vind.

“Twee mans van onderskeidelik 23 en 28 jaar oud het hom op ’n straathoek voorgekeer. Een het ’n vuurwapen op hom gerig terwyl die ander een die slagoffer gewurg het. Hulle het sy beursie met R180 daarin, bedoel vir taxi-geld, en twee selfone by hom geroof,” sê Mbele.

Die slagoffer was gestrand sonder sy geld en het agter die verdagtes begin aanhardloop.

Die slagoffer was gestrand sonder sy geld en het agter die verdagtes begin aanhardloop.

Een het omgedraai en hom met die kolf van die vuurwapen, wat later geblyk het ’n speelgoedpistool te wees, geslaan, voordat die twee rowers in ’n woonstelgebou ingehardloop het.

“Twee konstabels van die Johannesburg-Sentraal-polisiestasie het in private drag voetpatrollie gedoen toe hulle sien hoe die slagoffer aangerand word en die rowers vlug.

“Hulle het die verdagtes in die gebou in gevolg en hulle vasgetrek. Die fone en speelgoedwapen is gevind,” sê Mbele.

Die rowers het egter in hul vlugtog die beursie met die R180 daarin weggegooi.

“Die polisielede het geld uit hul eie sakke gehaal en saam R200 aan die slagoffer gegee om die taxi huis toe te haal.

“Hulle het dit ook by die stasie verklaar,” sê Mbele.

Die twee vermeende rowers sal Donderdag in die hof verskyn op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, aanranding en die onwettige besit van ’n item om die slagoffer mee te dreig.

Gen.maj. Max Masha, Johannesburgse distrikbevelvoerder, het die twee lede geprys vir hul blitsige optrede om die verdagtes te vang, maar ook omdat hul “moeite gedoen het” om die slagoffer te help.

* Die polisie wou nie die twee konstabels identifiseer nie, weens die aard van hul werk op straat.

Meer oor:  Kapt. Xoli Mbele  |  Witbank  |  Emalahleni  |  Rowers  |  Taxigeld  |  Aangeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.