Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisielede vas wat met renosterhoring smokkel
Joseph “Big Joe” Nyalunga (33).

Twee polisielede, ’n oudpolisielid en nog drie vermeende baasbreine wat glo deel is van ’n groot renosterstropingsindikaat, is deur die Valke in Mpumalanga in hegtenis geneem.

Petros Sydney Mabuza (53), Clyde Mnisi (33) en Joseph “Big Joe” Nyalunga (33), die vermeende baasbreine agter die sindikaat, het Woensdag saam met hul medebeskuldigdes in die landdroshof in Hazyview verskyn.

Nyalunga is ’n voormalige adjudant-offisier by die Witrivier-polisiekantoor.

Die ander beskuldigdes is Phinias Lubisi (40), ’n polisiekaptein en voormalige stasiebevelvoerder van die Skukuza-polisiekantoor, Arettah Mhlanga (40), ’n konstabel by die Skukuza-polisiekantoor en Lubisi Claude (33), ’n voormalige polisiekonstabel by die Calcutta-polisiekantoor.

Hulle word op aanklagte van diefstal, sameswering om ’n misdryf te pleeg, die onwettige handel in renosterhoring, korrupsie en geldwassery vervolg.

Die saak teen hulle is Woensdag tot 27 September uitgestel, wanneer hulle formeel om borgtog aansoek sal doen.

Volgens brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het hulle reeds Dinsdag met die operasie begin waarin die mans in hegtenis geneem is.

Dit is deel van die Valke se Projek Broadbill wat in Januarie 2017 begin is.

Dié projek fokus op renosterstropery in die Krugerwildtuin, KwaZulu-Natal, Gauteng en ander private wildreservate in Mpumalanga.

Mulaudzi sê daar is op verskeie eiendomme toegeslaan en beslag gelê op talle luukse motors, motorfietse, diervelle en ’n groot bedrag geld. Dié items is glo alles gekoop met geld wat na bewering verkry is uit die onwettige handel in renosterhoring.

Die vermeende sindikaat was goed georganiseerd en het die renosterhorings, wat in sommige gevalle in veilige bewaring was, in die hande gekry en vervoer na plekke waar dit onwettig verkoop is.

Die horings is in Gauteng verkoop, waarna dit na Asië gestuur is.

Die gebiede waarin die vermeende sindikaat die renosterhorings gekry het, sluit in voormalige trustgebiede soos Mkhuhlu, Calcutta, Belfast, Cork en Shabalala buite Hazyview in Mpumalanga.

“Hulle het hul operasies haarfyn beplan en met militêre presisie uitgevoer sodat hulle vir lank die polisie ontduik het,” sê Mulaudzi.

Korrupte polisielede het gesorg dat die vermeende sindikaatlede vir lank onwettig met die renosterhorings gesmokkel het.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, Valke-hoof, sê die inhegtenisnemings is ’n harde slag vir die onwettige handel in renosterhoring.

“Ons is daartoe verbind om renosterstropery en die onwettige handel in renosterhoring uit te roei,” sê Lebeya.

Mulaudzi sê die operasie is nog nie afgehandel nie en dit is moontlik dat nog mense aangekeer kan word.

Meer oor:  Mpumalanga  |  Polisielede  |  Inhegtenisneming  |  Renosterhoring  |  Smokkel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.