Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisielid, 6 vermeende transitorowers in Limpopo vas

’n Vrouepolisielid van Limpopo wat glo betrokke is by ’n vermeende transitorowerbende het na bewering een van hul wegkommotors by die Motetema-polisiebarakke buite Groblersdal weggesteek.

Die polisielid is Dinsdag deur ’n gesamentlike taakspan van die polisie in Limpopo en Mpumalanga in hegtenis geneem saam met nog ses vermeende rowers.

Die geldwa wat Dinsdag glo buite Marble Hall beroof sou word. Foto: Verskaf

Die taakspan het inligting van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid ontvang dat ’n transitorooftog glo in die Marble Hall-omgewing in Limpopo sou plaasvind.

Die polisie het die vermeende rowerbende dopgehou terwyl hulle Dinsdag glo beplan het om ’n Fidelity Security-geldwa te beroof.

Hulle is by die Toitskraal-kliniek buite Marble Hall in hegtenis geneem voordat hulle op die geldwa kon toeslaan.

Daar is toe gevind dat een van die motors wat glo in die transitorooftog gebruik sou word, aan die vrouepolisielid van die Motetema-polisiekantoor behoort.

Vermeende transitorowers sou glo hierdie motor in ’n rooftog in Limpopo gebruik het. Foto: Verskaf
Die ses vermeende transitorowers lê Dinsdag op die grond nadat hulle in Limpopo aangekeer is. Foto: Verskaf

Die vrou is ondervra en sy het glo erken dat sy ’n romantiese verhouding met die leier van die vermeende rowerbende het. Sy het glo nog ’n motor wat as ’n wegkommotor gebruik sou word, by die polisiebarakke weggesteek.

Volgens ’n lid van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, wat nie geïdentifiseer mag word nie, word van die verdagtes glo verbind met verskeie ander transitorooftogte landwyd. Sommige van die ses verdagtes was uit op borgtog toe hulle Dinsdag weer in hegtenis geneem is.

Dit is nie bekend wanneer of in watter landdroshof die ses verdagtes sal verskyn nie.

Bheki Cele, minister van polisie, het die polisietaakspan geloof nadat die ses verdagtes weens poging tot ’n transitorooftog in hegtenis geneem is.

Nog ’n motor wat glo in ’n transitorooftog in Marble Hall gebruik sou word. Vermeende rowers lê langs die motor op die grond. Foto: Verskaf

Nonkululeko Phokane, Cele se woordvoerder, sê sedert daar op 4 Junie begin is met ’n verskerpte aanslag teen transitorooftogte, is 21 verdagtes reeds aangekeer.

“Die hoogs gespesialiseerde taktiese polisiespanne sal voortgaan om toe te slaan op bendes transitorowers wat die land terroriseer.”

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, het alle navrae na die polisie se nasionale woordvoerder verwys. Dié het nog nie op navrae gereageer nie.

Nommerplate en klere is by die vermeende transitorowers in Limpopo gekry. Foto: Verskaf
Meer oor:  Limpopo  |  Inhegtenisname  |  Transitorowers  |  Polisielid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.