Die polisie in die Oos-Kaap is opsoek na die moordenaars wat een van hul lede net duskant ’n polisiekantoor doodgeskiet en van sy dienspistool beroof het.
Die moord op ao. Vumile Bado (56) van die Peddie-polisiekantoor is minstens die derde polisiebeampte wat binne die eerste drie weke van die jaar in die Oos-Kaap vermoor is.
Bado is Woensdag aangeval sowat 15 minute nadat hy omstreeks 18:00 van diens af gekom het. Hy het gestap na sy woonstel wat naby die polisiekantoor geleë is toe ander polisiebeamptes skote hoor klap. Hulle het hom dood gevind en sy dienspistool met 15 rondes is ook gebuit.
Kol. Brenda Muridili, nasionale polisiewoordvoerder, sê die polisie het nog niemand vir die moord aangekeer nie.
Die moord op Bado volg kort nadat die Oos-Kaapse polisiebestuur Woensdagmiddag nog twee polisielede se dood betreur het.
Genl.maj. Thembisile Patekile, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het sy medelye aan die familie, vriende en kollegas van ao. Noxolo Nancy Mesilane (41), bevelvoerder van die Qhasa-polisiekantoor, asook vir ao. Maxabiso Somacala (53) van die Tsolo-polisiekantoor se sigbare polisiëring, uitgespreek.

Ao. Noxolo Nancy Mesilane Foto: Facebook
Mesilane se lyk is Vrydag gevind waar dit van die dak van haar huis hang met haar hande agter haar rug vasgebind. Sy het ook steekwonde gehad.
Die lyk van ’n man, wat na bewering ’n vriend van Mesilane is, is later in ’n veld daar naby gevind waar hy homself om die lewe gebring het. Die polisie het bevestig hulle ondersoek die moontlikheid dat Mesilane deur dié man vermoor is.
Netwerk24 het vroeër berig Somacala is Sondag in Tsolo dood terwyl hy aan diens was. Hy het op ’n klag reageer oor ’n gemeenskapslid wat ’n vuurwapen op iemand rig. Met Somacala se aankoms het die man steeds die vuurwapen rondgeswaai en in ’n struweling tussen die twee is albei noodlottig gewond.
In die 2019-’20-boekjaar is nege beamptes in die Oos-Kaap vermoor, van wie twee aan diens was.