Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisielid geskiet: Nou hoop en bid hulle, sê vrou

Die dokters het vir haar gesê haar man is baie ernstig beseer en die prognose lyk nie goed nie. “Maar ons dien mos ’n lewende God.”

Nou hoop en bid hulle, sê Sharlene Florence (40), wie se man, konst. Freddie Florence (42), Woensdagoggend kort ná 02:30 ernstig gewond is toe lede van die Wes-Kaapse bende-eenheid in Samora Machel deur ’n groep onbekende mans aangeval is.

Florence is drie keer raakgeskiet – in sy kop, sy arm en sy been.

Chirurge by die Gatesville Melomed-hospitaal het Woensdag die koeëls in ’n operasie verwyder.

Konst. Freddie Florence

Sharlene sê die koeël in sy kop het haar man se skedel deurgedring en die been is versplinter.

Sy het Dinsdag kort ná 19:00 met haar man gepraat. Sy wou by hom weet hoekom hy so stil is? “Hy het vir my gesê hulle werk gou. Hy sal later weer praat.”

Toe kom daardie oproep.

Florence het in 2007 by die polisie aangesluit. Hy en Sharlene is tien jaar getroud en het twee kinders, 14 en ses jaar oud.

Nog vier van Florence se kollegas is in die aanval gewond. Hulle het speurders van die bende-eenheid gehelp om verdagtes te soek in verband met drie voorvalle van moord waarin vyf mense vermoor is.

Sharlene Florence

Een van die verdagtes wat hulle in hegtenis geneem het, het hulle gelei na die hut van nog ’n verdagte waar onbekende mense op hulle begin skiet het.

Konst. Edwell le Grange, een van die ander polisiebeamptes wat gewond is, is ook in die Gatesville Melomed-hospitaal. Sy toestand is stabiel.

Le Grange het gesê hy is oukei, maar hy mag nie met die media praat nie.

Nog drie polisiebeamptes is ook gewond in onder meer albei bene, gesig, rug, maag en voet.

Nog een het sy knie seergemaak. Hulle word by die Tokai Melomed-hospitaal behandel.

Lede van die bende-eenheid het gesê hulle het meer as 38 koeëldoppies op die toneel getel.

Bheki Cele, minister van polisie, het die aanval veroordeel en aangekondig dat die polisie ’n 72-uur-plan in werking gestel het om die aanvallers op te spoor.

Grafika24
Ure later...

Die Wes-Kaapse polisie het in die ure ná die aanval 200 polisiebeamptes in Samora Machel ontplooi.

Genl.maj. Jeremy Vearey, provinsiale speurhoof, het gesê die 200 lede gaan Samora Machel blok vir blok, huis vir huis deursoek totdat hulle die verdagtes en die vuurwapens wat hulle gebruik het, kry. Hy het gesê hulle is op soek na twee verdagtes.

Een verdagte is reeds in aanhouding.

Cele het gevra dat inwoners geduldig met die polisie moet wees. “Ons weet dat hulle mense gaan probeer intimideer, maar ons sal hulle vind,” het hy gesê.

Meer oor:  Bendegeweld  |  Samora Machel  |  Bende-Eenheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.