’n Polisiebeampte en ’n lid van die publiek is Maandagoggend in ’n hewige skietery by ’n winkelsentrum in Windsor-wes in Johannesburg gewond.
“Lede van die Linden-polisiestasie was besig om in die gebied te patrolleer toe hulle twee verdagte motors oplet, ’n Audi en Mercedes-Benz sonder nommerplate.
“Albei voertuie het weggejaag toe die insittendes die polisie gewaar,” sê brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder.
Volgens haar is skote vanuit die Mercedes-Benz geskiet en ’n polisieman en ’n lid van die publiek is getref. “Die polisielid sowel as die lid van die publiek is na ’n hospitaal geneem,” sê Peters.
Russel Meiring, ER24-woordvoerder, sê die nooddienste is omstreeks 11:00 ontbied. “Die polisieman is in sy been geskiet en die lid van die publiek in sy skouer,” sê hy.
Peters sê dit is onbekend hoeveel verdagtes betrokke was en doen ’n beroep op enigeen met inligting om die polisie te kontak.