Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Teenbende-eenheid in W-Kaap korrup, sê polisielid

’n Lid van die polisie se taktiese-reaksie-eenheid in die Wes-Kaap vra in ’n brief dat die optrede van sekere lede van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid ondersoek word.

Sers. Ashley Tabisher (39) het die brief gerig aan genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) en Thembisile Patekile, Wes-Kaapse waarnemende polisiehoof.

Tabisher, wat voorheen aan die teenbende-eenheid verbonde was, is op 2 Mei by sy huis in Salisbury, Elsiesrivier, in hegtenis geneem.

Hy word daarvan beskuldig dat hy ’n korrupte verhouding met Nafiz Modack, ’n vermeende sleutelfiguur in die Kaapse onderwêreld, het.

Sers. Ashley Tabisher Foto: Verskaf

Die staat voer aan dat Modack hom glo sowat R10 000 betaal het om hom van operasies en klopjagte teen hom te waarsku.

Tabisher ontken dit en beweer genl.maj. André Lincoln, hoof van die teenbende-eenheid, gebruik hom as ’n pion.

Hy beweer dat lede van die eenheid korrup is en dat sekere senior offisiere van die eenheid onwettig opgetree het.

Volgens hom probeer hulle die rol verbloem wat hulle gespeel het en wat uiteindelik tot die sluipmoord op lt.kol. Charl Kinnear gelei het. Hy is in September 2020 doodgeskiet.

In ’n verklaring wat by die brief aangeheg is, sê Tabisher dat hy te alle tye onder die bevel en beskerming van Lincoln opgetree het.

Die verklaring is ter ondersteuning van sy aansoek om borgtog by die streekhof in Blue Downs ingedien.

Hierin beweer hy dat hy nie net met Lincoln se medewete opgetree het toe hy in gesprek met Amaal Jantjies was nie, maar dat Lincoln hom ’n amptelike polisieselfoon gegee het om in dié “geheime operasie” te gebruik.

Hy het verder gesê Lincoln het die indruk geskep dat hulle toestemming van adv. Shareen Riley van die nasionale vervolgingsgesag in die Wes-Kaap het om met die operasie voort te gaan.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - MAY 03: Nafiz  Modack ap
Nafiz Modack op 3 Mei by die Kaapstadse landdroshof. Foto: Gallo Images

Die doel daarvan was glo om inligting oor Modack in te samel. Die staat voer onder meer aan dat Jantjies en haar kêrel, Janick Adonis, vir Modack gewerk het.

Jantjies, Adonis en Faeez Smith is in November 2019 vir die mislukte handgranaat-aanval op Kinnear se huis in hegtenis geneem.

Brig. Novela Potelwa het bevestig dat Patekile se kantoor die skrywe van Tabisher se prokureur ontvang het. Dit is volgens haar na die toepaslike afdeling aangestuur.

Ook Opod se woordvoerder, Ndileka Cola, het bevestig dat die brief ontvang is en dat hulle daarna kyk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.