’n Polisiebeampte van die speurtak in Odendaalsrus verskyn Vrydag in die plaaslike landdroshof op ’n aanklag van korrupsie nadat hy glo die saak teen ’n beskuldigde wat onder die invloed van drank bestuur het, laat “verdwyn het”.
Die misdaadrekordsentrum (LCRC) in Kroonstad en die provinsiale teenkorrupsie-eenheid het die 50-jarige adjudant-offisier Woensdag omstreeks 13:00 in ’n gesamentlike operasie vasgetrek.
Volgens kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, het die polisiebeampte die beskuldigde genader en aangebied om sy saak teen R10 000 te laat “verdwyn”.
Sy sê die polisieman is aangekeer toe hy die oorspronklike dossier aan die beskuldigde in ruil vir R5 000 oorhandig het.
Die gemeenskap word aangeraai om korrupte aktiwiteite deur polisiebeamptes by die provinsiale teenkorrupsie-eenheid by 083 443 7987 aan te meld.