Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisielid vas wat glo ietermago probeer verkoop

’n Gewapende polisielid het glo nie net ’n hoogs bedreigde ietermago probeer verkoop nie, maar ook in die spitsverkeer op die snelweg probeer wegjaag vir sy kollegas wat hom in hegtenis wou neem.

So is die verwaarloosde ietermago in die bagasieruim van ’n motor, na bewering bestuur deur ’n polisielid van Tembisa, gevind.

Voorts blyk dit dat een van ao. Tlou Jackson Nkoko se kamerade ’n gesoekte man is met drie uitstaande sake vir roof, die besit van ’n gesteelde voertuig en motorkaping teen hom.

Nkoko, van die Tembisa-polisie, is op 7 Augustus saam met Steven Ramambila, Wilfred Teffo en Tebogo Seemise in hegtenis geneem op ’n aanklag dat hulle sonder ’n permit in besit was van ’n bedreigde spesie en dit probeer verkoop het.

Ietermago’s is op die Internasionale Bewaringsunie (IUCN) se gevaarlys van bedreigde spesies.

Dit het egter ’n enorme spanpoging van kilometers tussen Pretoria en Midrand deur lede van die Cullinan-polisie se veediefstal- en bedreigde spesies-eenheid, misdaadintelligensie en die honde-eenhede van Silverton, Bronkhorstspruit en Benoni gekos om die vier verdagtes vas te trek en die erg verwaarloosde ietermago te red.

Die inhegtenisnemings volg nadat die polisie inligting van ’n informant ontvang het dat twee mans die dier te koop aanbied.

’n Lokval, verskans as ’n ontmoeting met ’n koper, is gereël. ’n Tweede voertuig met nog twee verdagtes in het na ’n rukkie opgedaag en hulle het die ietermago aan die “koper” gewys. Die smokkelaars het hierop versoek dat die ontmoeting na Midrand verskuif waar die transaksie beklink sou word.

Die polisie-informant het ’n teken aan die wagtende polisielede gegee en die eerste voertuig met verdagtes is onderskep net toe dit wou wegtrek. Die tweede voertuig – na bewering bestuur deur Nkoko en met die lewende ietermago in – het weggejaag.

Twee van die verdagtes kort nadat hulle voertuig deur die polisie tydens ’n lokval afgetrek is.

Na ’n jaagtog midde-in spitsverkeer het lede van die onderskeie honde-eenhede, wat as versterking ingeroep is, die voertuig afgetrek gekry.

Die bestuurder is in besit van ’n polisiedienspistool gevind, waarop hy as ’n polisielid geïdentifiseer is. Nkoko was nie tydens die voorval aan diens nie.

Die polisie het beslag gelê op die pistool, ammunisie en die twee voertuie.

Die vier verdagtes het kort daarna in die landdroshof in Wynberg, Alexandra, verskyn. Teffo is verlede week op borgtog van R10 000 vrygelaat. Die ander drie, insluitend die polisieman, moes nog ’n paar aande agter tralies deurbring voordat hul aansoeke om borgtog aangehoor is.

Nkomo en Seemise is Vrydag elk op borgtog van R20 000 vrygelaat. Ramambila, wat verskeie uitstaande sake teen hom het, het Maandag ’n formele aansoek om borgtog gebring. Dit gaan later die week voort.

• Die ietermago is intussen in die sorg van ’n wildveearts gelaat, weens sy swak toestand, vermoedelik weens wanvoeding en beserings. Dit is nog onbekend waar hy/sy oorspronklik vandaan kom.

Meer oor:  Polisielid  |  Ietermago  |  Bedreigde Spesie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.