Sers. Dominick Monana (43) is Vrydagaand deur vier gewapende mans in Bosbokrand, Mpumalanga, oorrompel en doodgeskiet in wat ’n kapingspoging blyk te wees.
Hy was nie aan diens nie.
Luidens ’n polisieverklaring was Monana en ’n vriendin op pad na Bosbokrand toe die verdagtes by die motor verbygekom. Hulle het langs Monana se voertuig gemaak of hulle met hom wil praat, sê brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, in die verklaring.

Sers. Dominick Monana (43) wat Vrydagaand deur vier mans oorrompel en doodgeskiet is.Foto: Verskaf
Monana het sy venster afgedraai om uit te vind wat aangaan, toe die aanvallers vuurwapens uitpluk en op hom rig. Hy en sy vriendin is uit die motor gepluk.
Die verdagtes het Monana se dienspistool en selfone geëis, voordat hulle verskeie skote op hom geskiet het.
Daarna het hulle gevlug met Monana se voertuig asook die gesteelde selfone en wapen.
Toe die polisie en lede van die nooddienste op die toneel kom, is Monana dood verklaar. Sy vriendin was ongedeerd. Monana se voertuig is later ’n entjie van Bosbokrand, naby Violet Bank, gevind.
’n Saak van moord asook ’n klag van kaping word deur die polisie ondersoek. Die polisie het ook onmiddellik hul 72-uur-reaksieplan in werking gestel om die verdagtes op te spoor.
Monana was by die Calcutta-polisieskantoor gestasioneer.
’n Beroep is op die publiek gedoen om na vore te kom en ao. Mduduzi Aubrey Motubatsi by 072 320 3194 te bel met inligting wat kan help om die skuldiges vas te trek.