’n Stoeiery met ’n gewapende man het tot die dood van ’n Oos-Kaapse polisiebeampte gelei.
Die 53-jarige adjudant-offisier is Sondag in Tsolo dood terwyl hy aan diens was. Die gewapende man is ook noodlottig gewond.
Volgens die polisie het die beampte, wie se naam nog nie bekend gemaak is nie, Sondag op ’n klag gereageer oor ’n gemeenskapslid wat ’n vuurwapen op iemand rig.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die moord op ’n polisiebeampte in Tsolo in die Oos-Kaap betreur. Foto: Jaco Marais
Met die polisiebeampte se aankoms het die man glo steeds die vuurwapen rondgeswaai. ’n Stoeiery het tussen die polisiebeampte en die man ontstaan, waarna albei noodlottig gewond is.
Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het Maandag in ’n verklaring die polisiebeampte se dood betreur, asook sy 30 jaar se ervaring wat nou vir die polisie verlore is.
Hy sê die adjudant-offisier se dood kom terwyl die Covid-19-pandemie reeds meer as 400 polisielede se dood veroorsaak het.
In die vorige boekjaar is 73 polisiebeamptes oor die land heen vermoor, van wie 35 beamptes aan diens was. Uit die 35 is 11 vermoor terwyl hulle op klagtes gereageer het. In die Oos-Kaap is nege beamptes in die vorige boekjaar vermoor, van wie twee aan diens was.
Die polisie het Maandag ook die gemeenskap aan die afsnydatum van die amnestietydperk vir vuurwapens herinner.
Vuurwapeneienaars het tot 31 Januarie om ongelisensieerde vuurwapens, vuurwapen-onderdele en patrone in te handig om sodoende vervolging vry te spring.
Die vuurwapens en patrone kan vir vernietiging by die polisie ingehandig word, of terwyl die eienaars vir ’n nuwe lisensie aansoek doen.
Die polisie waarsku dat enigeen wat van 1 Februarie met ’n ongelisensieerde vuurwapen, vuurwapen-onderdele of patrone in hul besit betrap word, vervolg sal word.