
Die polisie deursoek voertuie in ’n padblokkade wat Donderdag op die R80- Mabopane snelweg in die weste van Pretoria gehou is. Polisievroue het ook pamflette oor geweld teen vroue en kinders aan motoriste uitgedeel. Foto: Deaan Vivier
Die polisie het Donderdag pamflette oor geslagsgeweld aan motoriste by padblokkades in die weste van Pretoria uitgedeel as deel van die jaarlikse veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teenoor vroue en kinders.
Kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê vroue van verskillende afdelings in die polisie het besluit om die publiek met dié veldtog bewus te maak van die verwoestende uitwerking wat geweld op vroue en kinders in die land het.

Polisiebeamptes deursoek ’n voertuig in ’n padblokkade op die R80- Mabopane snelweg. Meer as 200 mense is Woensdag vir verskillende misdade in hegtenis geneem. Foto: Deaan Vivier
“Die veldtog gaan nie net oor bewusmaking nie, maar ook oor polisiebeamptes wat opnuut onderneem om slagoffers van geslagsmisdaad met waardigheid te behandel en sulke sake te prioritiseer om skuldigbevindings so spoedig as moontlik te verseker.

Pamflette oor geslagsmisdaad word deur polisievroue in die padblokkade uitgedeel. Foto: Deaan Vivier
“Vroue moet van hul regte bewus gemaak word sodat hulle gevaartekens betyds kan raaksien en dit by die owerhede kan aanmeld,” het Mathe gesê.
Die polisie het ook Donderdag by die padblokkades meer as 200 mense vir verskillende misdade in hegtenis geneem.
Dit maak deel uit van die polisie se optrede teen misdaad in aanloop tot die feestydperk,” het Mathe gesê.

Die polisie stop voertuie om deursoek te word in ’n padblokkade wat op die R80- Mabopane snelweg in die weste van Pretoria gehou is. Foto: Deaan Vivier