Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisiegeweld selde in Gauteng opgelos

Slegs vyf uit 147 sake wat verband hou met polisiegeweld is in die laaste vyf jaar in Gauteng opgelos.

Faith Mazibuko, LUR vir gemeenskapsveiligheid, het dit bekendgemaak in ’n geskrewe antwoord op ’n vraag van die DA se Michael Shackleton in die provinsiale wetgewer.

Volgens Mazibuko is daar die afgelope vyf jaar in Gauteng 117 sake van aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer, drie van verkragting, een van verkragting in polisieaanhouding, 16 oor die dood van mense in polisieaanhouding en tien wat verband hou met die dood van mense in polisieoptrede teen die polisie aangemeld. Al die sake is ook by die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) aangemeld.

Faith Mazibuko
Faith Mazibuko, Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid. Foto: Argief

“Wat betref die vyf sake wat opgelos is, was drie moordsake waarin ’n beampte lewenslank gevonnis is, een tien jaar tronk toe gestuur is en ’n derde onskuldig bevind is. In een saak van poging tot moord is die beampte tot sewe jaar gevonnis en ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer is ook uitgeklaar,” sê Mazibuko in haar geskrewe antwoord.

In ’n verklaring Dinsdag het Shackleton gesê dit is kommerwekkend dat mense steeds gebuk gaan onder en selfs sterf weens polisiegeweld.

“Dit is ’n goeie aanduiding dat sommige polisiebeamptes nie gehoor gee aan die polisie se gedragskode nie en dat hulle mense se regte nie respekteer wanneer hulle hul pligte uitvoer nie.”

Die DA doen ’n beroep op Mazibuko om met Bheki Cele, minister van polisie, en Jennifer Ntlatseng, hoof van Opod, te vergader om vas te stel waarom daar vertragings in al hierdie sake is, sê Shackleton.

Netwerk24 se navrae oor die vertragings by Mazibuko se kantoor is Dinsdag na brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, verwys wat op haar beurt weer die vinger na Opod gewys het.

Ndileka Cola, woordvoerder, het Dinsdag by navraag gesê Opod sal eers alle beweringe van die DA moet verifieer voordat kommentaar gelewer kan word.

Dr. Guy Lamb van die Universiteit Stellenbosch se departement politieke wetenskap sê dit is kommerwekkend dat daar so baie onopgeloste sake teen polisiebeamptes in Gauteng is.

“Dit verbaas my geensins nie, want daar is talle sake wat deur Opod ondersoek word. Dit is nie net sake van polisiegeweld nie. Opod het goeie ondersoekers, maar hulle het net eenvoudig nie genoeg hulpbronne om die sake op te los nie,” sê Lamb.

“Opod sukkel ook om in die ondersoeke die samewerking van die polisie te kry en dit bring groot vertragings mee.”

Meer oor:  Polisiewreedheid  |  Polisie  |  Faith Mazibuko  |  Gauteng
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.