Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Politieke wil ‘nou daar om plaasaanvalle te stuit’

Gespesialiseerde polisie-eenhede om plaasaanvalle en - moorde landwyd te probeer bekamp, is ’n positiewe stap én die heel eerste tasbare bewyse dat die regering die politieke wil ontwikkel het om dié tipe geweldsmisdade daadwerklik te beveg.

Dit is die reaksie van dr. Johan Burger, ’n polisiekenner en konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies, nadat genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, bogenoemde Vrydagoggend in die parlement bekend gemaak het.

Genl. Khehla Sitole
Genl. Khehla Sitole

Sitole het hierdie eenhede bekend gemaak kort voordat hy en Bheki Cele, minister van polisie, die jongste misdaadstatistieke bekend gemaak het.

Luidens die polisie se statistieke is 49 plaasmoorde in 46 voorvalle in 2019-’20 aangemeld.

Sitole het LP’s ingelig dat die polisie ook sy landelike veiligheidsplan in reaksie op plaasmoorde geaktiveer het.

“Ek het onlangs (die stigting van) ses gespesialiseerde eenhede bekragtig om daarmee te help. Ons het nou ook toegewyde ondersoeke wat daarop sal fokus.”

Volgens Sitole sal landbou-unies en landelike gemeenskappe, sowel as sektorpolisiëring, buurtwagte en reserviste ook in landelike gebiede geaktiveer word.

Intussen het Tommie Esterhuyse, voorsitter van Afri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Landelike Veiligheid, gesê dat die jongste misdaadstatistieke nie ’n weerspieëling is van “die gevoel van onveiligheid wat tans onder die boerderygemeenskap van Suid-Afrika heers nie”.

Dit omdat die onlangse vlaag van plaasaanvalle en -moorde, veral die hoëprofielmoorde in die Vaalharts-gebied, en hoë vlakke van eiendomsverwante misdaad, daartoe gelei het dat gemoedere in dié sektor “bykans breekpunt” bereik het.

Volgens Esterhuyse is dit kommerwekkend dat 49 plaasmoorde in 2019-’20 by die polisie aangemeld is.

“Dit is 49 moorde te veel en het die land ontneem van strategiese kundigheid op boerderygebied en armer gelaat aan kundigheid wat nou nodig is om ’n bydrae te lewer tot ekonomiese groei en voedselsekerheid.”

Dr. Johan Burger. Foto: Liza Hnatowicz

Agri SA het volgens hom reeds ’n versoek aan Cele gestuur om die veiligheid van die landbougemeenskap te bespreek om oplossings vir die geweldkultuur in boerderygebiede te vind.

AfriForum het Vrydag gesê hoewel hy Sitole se aankondiging oor spesialiseenhede verwelkom, “sal slegs tyd en statistieke kan aandui of dié besluit ’n positiewe uitwerking gehad het”.

“Plaasaanvalle is ’n werklike krisis wat reeds die lewe van duisende mense geraak het. Dit is daarom belangrik dat die oplossing meer as bloot teorie moet wees, maar ook prakties werkbaar is,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie.

Burger sê die volgehoue druk oor plaasmoorde die afgelope maande het die land se politieke leierskap laat luister om daadwerklik teen hierdie soort misdade te begin optree.

“Die polisie was vroeër in ’n gemaksone oor plaasmoorde omdat daar nie soos nou politieke druk op hulle was om dit beter te bestry nie.

“Sitole se aankondiging is die eerste tasbare toewysing van hulpbronne teen plaasmoorde. Daar is nou ’n opgedateerde landelike veiligheidstrategie, die politieke erkenning dat plaasmoorde aandag moet kry en die toewysing van die spesialiseenhede. Dit is baie positief en kan net groei en verbeter,” sê Burger.

Cele het ook Vrydag gesê veediefstal het danksy polisie-ingryping landwyd met 4,2% afgeneem.

“Ek het nog altyd aangevoer dat dieselfde hulpbronne wat ontplooi word in die stryd teen roof met verswarende omstandighede gekanaliseer moet word om veediefstal te beveg omdat dit as ’n ernstige misdaad in die landelike ekonomie beskou word,” het Cele gesê.

Meer oor:  Johan Burger  |  Eenhede  |  Plaasaanvalle  |  Gespesialiseerd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.