Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polokwane-moorde: ‘Baasbrein’ en snikkende vrou van begrafnis vas

Die vermeende baasbrein agter die moorde op ’n bekende sakevrou en haar bejaarde ma van Polokwane is vroeg Vrydagoggend in Tembisa aan die Oos-Rand in hegtenis geneem.

Kort ná sy inhegtenisneming is ook ’n middeljarige vrou, wat bekend was aan die vermoorde Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), in Polokwane in hegtenis geneem.

Die vrou het Dinsdag die roudiens vir die Deacons in die NG kerk Polokwane-noord bygewoon en bitterlik buite die kerk gehuil.

Die identiteit van die twee beskuldigdes is aan Netwerk24 bekend, maar hul name word op regsadvies weerhou totdat hulle Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn.

’n Onberispelike bron na aan die ondersoek het aan Netwerk24 gesê die man wat in Tembisa in hegtenis geneem is, is ’n voormalige werknemer van die Deacons in een van die takke van die Ocean Basket-restaurante in Polokwane.

Hy is onlangs afgedank. Hy en die vrou wat in Polokwane in hegtenis geneem is, ken mekaar.

Die man wat glo die baasbrein agter die moorde op Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79) van Polokwane was, is Vrydag in Tembisa aan die Oos-Rand in hegtenis geneem. Foto: Bosveld Misdaadondersoeke
Die sinkhuis in Tembisa aan die Oos-Rand waar die vermeende baasbrein agter die moorde in hegtenis geneem is. Foto: Bosveld Misdaadondersoeke

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, het Vrydag bevestig 'n man en 'n vrou is weens die moorde op die Deacons in hegtenis geneem.

Verskeie polisie-eenhede in Limpopo en Gauteng het die afgelope week onverpoosd saam met oudkol. Gawie Louwrens van Bosveld Misdaadondersoeke (BMO) gewerk en leidrade opgevolg om die inhegtenisnemings moontlik te maak. Hulle het ook in Mankweng, sowat 30 km buite Polokwane, op ’n huis afgekom waar eiendom van die Deacons gevind is.

Die man en vrou se inhegtenisnemings kom nadat Casper Mudau (35) en Advanced Amid (30), albei Zimbabwiërs, Sondag in onderskeidelik Mookgophong en Polokwane in hegtenis geneem is.

Mudau en Amid is bekend aan die vermeende baasbrein en die vrou wat Vrydag in hegtenis geneem is. Hulle is na bewering gehuur om die moorde te pleeg.

Die mans het Dinsdag ’n uur voor die roudiens in die plaaslike landdroshof op onder meer aanklagte van moord verskyn, waarna landdros Janine Ungerer die saak tot Vrydag 25 September uitgestel het.

Die klanktoestel is in ’n huis in Mankweng buite Polokwane gekry. Dit het glo aan die vermoorde Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), behoort. Foto: Bosveld Misdaadondersoeke
Drank is gekry in die huis in Mankweng buite Polokwane waar die vermeende moordenaars geskuil het. Foto: Bosveld Misdaadondersoeke

Die grusame moorde op die Deacons het Polokwane geruk.

Lizette en Hettie is verlede Donderdag vroegaand in hul meenthuis in die Alpetra-kompleks in Welgelegen oorval. Hulle is met messe gesteek en by die bagasiebak van Lizette se wit Honda-luikrugvoertuig ingeboender. Hul lyke is ure later sowat 25 km buite Polokwane agter in die voertuig gekry.

Hulle hande was styf met kabelbinders vasgebind en lappe was baie styf om hul koppe gedraai.

Dit blyk dat die oorsaak van hul dood versmoring is.

Lizette was die eienaar van die twee plaaslike takke van die Ocean Basket-restaurante, een in die Mall of the North en een in Savannah Mall. Haar ma het haar met die bestuurspligte gehelp.

Hettie Deacon (79) en haar dogter, Lizette (55).

Ds. Dopper Erasmus, wat die roudiens gelei het en ’n jare lange vriend was, het Vrydag gesê hy is verlig dat nog mense in hegtenis geneem is.

Hy het die moorde as “onmenslik wreed” beskryf. “Wat moes in daardie laaste ure deur hul gedagtes gegaan het? Ek het Donderdagoggend nog saam met Lizette koffie gedrink, haar ’n drukkie gegee, min wetend dat dit die laaste keer is. Skielik is hulle nie meer hier nie. Alles is so onwerklik.”

Lizette het jare lank ’n woonstel op Erasmus en sy vrou, Rita, se erf in Polokwane gehuur.

Christo van der Merwe, wat op die misdaadtoneel in die Deacons se meenthuis afgekom het, het Vrydag gesê hy is baie bly dat nog twee mense in hegtenis geneem is.

Christa Deacon, Hettie se skoondogter en Lizette se skoonsuster, het Vrydag gesê sy en haar man, Quinton, is “dankbaar dat nog mense in hegtenis geneem is”.

“Die polisie was wonderlik. Hulle het ons die hele tyd op die hoogte gehou,” het sy gesê.

Quinton en Christa woon in Kaapstad en besit ook restaurante.

Quinton het Dinsdag by die roudiens gesê sy ma “het tot die dood geveg” om Lizette te beskerm. “Sy was ’n fighter.”

Meer oor:  Polokwane-Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.