Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Poppie se ma dalk eerder nalatig – regskenner
Louisa Koekemoer wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op haar dogtertjie Poppie van der Merwe (3).Foto: Elizabeth Sejake

Louisa Koekemoer se regspan sal kan argumenteer dat sy nie regstreeks betrokke was by die moord op haar dogtertjie, Poppie van der Merwe (3) nie, maar eerder nalatig was.

So sê Alet Uys van Alet Uys Prokureurs in Pretoria oor Koekemoer wat Donderdag by haar huis in Mamogaleskraal in hegtenis geneem is in verband met Poppie se moord.

Die Grondwet vereis die beskerming van kinders en die hof ag die welstand van kinders baie belangrik.
Alet Uys

“Sy het nie noodwendig opsetlik aan die moord deel gehad nie, maar sy het niks gedoen om die risiko daarvan te voorkom nie,” sê Uys.

Volgens Uys het Poppie se ma na wat berig word en volgens verklarings wat afgelê is, geweet van die mishandeling.

“Sy moes geweet het dat daar ’n risiko sou wees vir verdere of voortgesette mishandeling en was nalatig deur niks daaraan te doen nie,” sê Uys.

Sy sê egter dat net professionele mense soos maatskaplike werkers en onderwysers uitdruklik verplig word om kindermishandeling te rapporteer.

“Ander meerderjariges het ook so ’n verpligting, maar die verpligting is nie so uitdruklik nie en daarom is daar die moontlikheid dat ouers en ander meerderjariges makliker met sulke gedrag gaan kan wegkom.

“Maar die Grondwet vereis die beskerming van kinders en die hof ag die welstand van kinders baie belangrik.”

Hoewel ouers nie so uitdruklik verplig word om kindermishandeling aan te meld nie, word hulle by implikasie van die streng wetgewing oor kinders verplig om na die welstand van hul kinders om te sien, sê sy.

Poppie se ma het in ’n verklaring gesê die stiefpa, Kobus Koekemoer, het haar kinders fisiek en emosioneel aangerand sedert hulle getroud is.

Die verklaring is op 28 November in die landdroshof in Brits voorgelees.

Volgens sers. Mpho Gift Matome, ondersoekbeampte, het Louisa in die verklaring gesê sy het gesien hoe Kobus vir Poppie ’n dag voor haar dood teen ’n kas gooi.

“Sy is baie bang vir die beskuldigde, al het hy haar nooit aangerand nie, want hy het vir haar gesê as sy vir iemand iets vertel, sal hy haar doodmaak.”

Louisa sal as medebeskuldigde op ’n aanklag van moord saam met haar man aangekla word. Sy sal die langnaweek in aanhouding bly tot sy Maandag in die landdroshof in Brits verskyn.

Poppie is na bewering op 25 Oktober doodgeskop. Luidens die nadoodse ondersoek blyk dit dat sy met ’n stomp voorwerp teen die kop getref is, wat erge breinbloeding veroorsaak het. Sy het ook verskeie skaafplekke aan haar gesig, bors en bobene gehad.

Kobus Koekemoer, Louisa se man en Poppie se stiefpa, is reeds vroeër weens die beweerde moord op die meisie in hegtenis geneem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.