’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die bestuurder van die Porsche Cayenne wat ’n kaper Donderdagaand doodgeskiet het, ’n rede gehad het om sy vuurwapen se sneller te trek.
Kapt. Augustinah Selepe, polisiewoordvoerder, het Maandag aan Netwerk24 gesê die bestuurder is nie in hegtenis geneem nie en dat die voorval nog ondersoek word. “Die voorlopige ondersoek dui op elemente wat die skietery regverdig. Die direkteur van openbare vervolging sal verder besluit oor moontlike vervolging,” sê sy.
’n Man is Donderdagaand naby die Voortrekkermonument in Pretoria doodgeskiet toe hy en sy makkers die Porsche Cayenne probeer kaap het.
Geen klag van moord is aanhangig gemaak nie.
“Die man is op die R101 geskiet toe hy na bewering die Porsche se bestuurder probeer kaap het. Daar word beweer minstens vyf mans in ’n rooi Toyota-bakkie het die Porsche probeer voorkeer. Van die verdagtes het die Porsche-bestuurder genader, waarna die bestuurder sy vuurwapen uitgehaal en een van die verdagtes geskiet het,” sê Selepe.
Vroeër is berig die bestuurder van die Porsche word vir moord ondersoek, maar Selepe het Maandag gesê nog geen klag van moord is aanhangig gemaak nie.
“Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot kaping en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.
“Ons doen ’n beroep op enigiemand wat inligting oor die voorval het om na vore te kom sodat ons die verdagtes in hegtenis kan neem,” sê sy.
Selepe sê die man wat doodgeskiet is, se vuurwapen is op die toneel gevind en sal vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit ook in ander misdade gebruik is.