Die bestuurder van ’n Porsche Cayenne wat een van sy vermeende kapers Donderdag doodgeskiet het, word vir moord ondersoek.
Kapt. Augustinah Selepe, polisiewoordvoerder, sê in ’n mediaverklaring ’n verdagte is Donderdag naby die Voortrekkermonument in Pretoria doodgeskiet toe hy die bestuurder van ’n Porsche Cayenne glo probeer kaap het.

Die bestuurder van ’n Porsche word vir moord ondersoek. Foto: ER24
“Die verdagte is Donderdagaand op die R101 geskiet toe hy na bewering die Porsche-bestuurder probeer kaap het. Daar word beweer minstens vyf verdagtes in ’n rooi Toyota-bakkie het die Porsche probeer voorkeer. Van die verdagtes het die Porsche-bestuurder genader, waarna die bestuurder onmiddellik sy vuurwapen uitgehaal het en een van die verdagtes geskiet het.”
Die ander verdagtes het glo in die bakkie gespring en weggejaag.

Die verdagte se vuurwapen is op die toneel gevind. Foto: Verskaf
Selepe sê die verdagte wat op die toneel doodgeskiet is, se vuurwapen en ammunisie is op die toneel gevind. Sy vuurwapen sal vir ballistiese toetse geneem word sodat daar vasgestel kan word of hy dit in ’n vorige ernstige misdaad gebruik het.
“Die polisie ondersoek ’n saak van moord en poging tot kaping. Ons doen ’n beroep op enigiemand wat inligting oor die voorval het om na vore te kom sodat ons die verdagtes in hegtenis kan neem.”

Die Porsche-bestuurder het glo onmiddellik op die verdagtes begin skiet. Foto: Verskaf
Soos vroeër op Netwerk24 berig, is paramedici na die toneel uitgeroep nadat die beweerde kaper op die toneel geskiet is.
Ross Campbell, ER24-woordvoerder, het Donderdag in ’n verklaring gesê die beweerde verdagte is ernstig op die toneel gewond en het op die toneel aan sy wonde beswyk.
Die polisie het nie op navrae gereageer om te bevestig of die Porsche-bestuurder in hegtenis geneem is nie.