Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Poynton-gebou ontruim ná skietery
Werknemers staan buite die Poynton-gebou in die Pretoriase middestad nadat kantore tydens die skietery ontruim is. Foto: Hanti Otto

Werknemers by die departement van korrektiewe dienste se hoofkantoor in Pretoria het Donderdag glo eers gedink ’n gyselaarsdrama speel in ’n senior amptenaar se kantoor af. Toe klap ’n skoot en personeel en besoekers moes inderhaas die Poynton-gebou in WF Nkomostraat ontruim.

Die senior amptenaar, volgens omstanders iemand met die rang van direkteur, is net ná 11:00 in ’n kantoor op die tweede verdieping van die gebou in die bolyf geskiet.

Die rede vir die voorval is onbekend.

Nie die polisie of die DKD wou die slagoffer se rang bevestig nie, en ook nie of die 46-jarige verdagte self ’n direkteur is, soos wat beweer word, of ’n ondergeskikte nie.

Kapt. Augustinah Selepe, polisiewoordvoerder, kon net bevestig dat die verdagte op die toneel in hegtenis geneem is op ’n aanklag van poging tot moord en dat die vuurwapen wat gebruik is, gelisensieerd is.

“Die slagoffer is in ’n kritieke toestand na ’n hospitaal gebring en die verdagte is in hegtenis. Hy sal Maandag in die hof verskyn. Die motief vir die voorval is in die stadium onbekend,” het sy gesê.

Die DKD het die voorval in ’n verklaring as ’n “veiligheidskending” beskryf en gesê ’n interne ondersoek sal gedoen word.

Polisie-ondersoekers stap na die draaideur wat lei na die kantore waar ’n senior-DKD-beampte gewond is. Foto: Hanti Otto

Singabakho Nxumalo, DKD-woordvoerder, het later bygevoeg die gewonde beampte, wat volgens ’n verklaring een keer geskiet is, se toestand is stabiel.

Hy het gesê die polisie het beslag gelê op die vuurwapen wat in die voorval gebruik is, en traumaberading is gereël vir werknemers.

Terwyl ’n forensiese deskundige van die polisie deur die draaideur en metaalverklikker by die ingang na die kantore gestap het om die toneel te ondersoek, het sommige DKD-werknemers buite erken dat hulle nie weer na die tweede verdieping wil gaan nie en later hul goed sou kry.

Sommige het gefluister dat iemand die departement se mensehulpbronafdeling sal moet vertel dat “ons meer mense, beter veiligheid” nodig het.

• Hoewel sommige DKD-lede wel gewapen is, is dit nie bekend of hulle met hul vuurwapens by die hoofkantoor mag ingaan nie.

’n Forensiese ondersoeker gaan die Poynton-gebou binne. Foto: Hanti Otto

Meer oor:  Skietery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.