Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Premier bekommerd oor ‘mensehandel in Oos-Kaap’

Phumulo Masualle, premier van die Oos-Kaap, is besorg oor mensehandel in dié provinsie. Hy het verskeie provinsiale departemente opdrag gegee om ’n massiewe veldtog teen kinderhandel in die provinsie van stapel te stuur.

Masualle sê mensehandel is ’n “ernstige bedreiging” vir die veiligheid van kinders in die provinsie en vra ouers om waaksaam te wees.

Hy het Woensdag ná ’n twee dae lange lekgotla in Port Elizabeth, ’n verklaring hieroor uitgereik.

Phumulo Masualle, Oos-Kaapse premier. Foto: Argief

’n Ligte vragmotor is vroeg in Augustus by Kinkelbos, sowat 50 km van Port Elizabeth, voorgekeer. In die vragmotor is sowat 20 kinders en jong mense, almal glo van Malawi en sonder wettige paspoorte en identiteitsdokumente, aangetref.

Luidens Masualle se verklaring word dié voorval deur die provinsiale owerhede met die samewerking van wetstoepassers ondersoek. Dit sal binnekort tot ’n hofsaak lei.

Kapt. Anelisa Feni, woordvoerder van die Valke, sê die bestuurder van die vragmotor is in hegtenis geneem nadat hy glo die beamptes probeer omkoop het.

Hy verskyn op 13 September in die landdroshof in Alexandria in verband met beweerde bedrog.

Na verneem word, is geen ander klagte teen hom aanhangig gemaak nie.

Die kinders is aan die departement van maatskaplike ontwikkeling oorhandig.

Mzukisi Solani, woordvoerder van die departement, sê die kinders is in plekke van veiligheid in Oos-Londen en Port Elizabeth geplaas. Hulle sal in die departement se sorg bly totdat die hof besluit om hulle uit te lewer of aan te kla.

Die Valke het nog nie gereageer op ’n versoek om kommentaar te lewer op Masualle se waarskuwing nie.

Hy het Masualle se waarskuwing oor mensehandel verwelkom en sê dit is hoog tyd dat die premier sy stem oor die kwessie laat hoor.

“Mensehandel gebeur nie soos mense dink nie; die ontvoerders ry nie in ’n paneelwa met donker ruite rond en gryp mense nie. Dit is ’n georganiseerde misdaad wat haarfyn beplan word.”

Luidens Masualle se verklaring is vier sake van mensehandel onlangs op Whittlesea, sowat 40 km buite Queenstown, aangemeld.

Feni sê egter die Valke ondersoek net een saak.

Dié saak is in Junie aangemeld toe ’n 16-jarige meisie na bewering gedwing is om ’n seksslaaf te word. Die meisie is deur Valke teruggekry en sy is tans in ’n plek van veiligheid. Niemand is egter nog in hegtenis geneem nie.

Masualle sê in die verklaring hy is ook bewus van voorvalle waar familielede hul kinders in ruil vir kruideniersware aanbied aan sakelui.

Masualle sê selfs kerke word vir mensehandel gebruik en hy raai ouers aan om nie hul kinders sonder toesig na kerkdienste te stuur nie.

Die Valke het nog nie gereageer op ’n versoek om kommentaar te lewer op Masualle se waarskuwing nie.

* Die afgelope week het verskeie stemnotas en bewerings van mense dat hulle ontvoer of byna ontvoer is, of slagoffers van mensehandel is, die ronde op sosiale media in Port Elizabeth en Uitenhage gedoen.

Die polisie waarsku mense om nie ongegronde en vals stellings op sosiale media te versprei nie, maar eerder ’n saak by die polisie aanhangig te maak indien hulle wel oor inligting beskik.

Meer oor:  Phumulo Masualle  |  Oos-Kaap  |  Mensehandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.