Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Premier sal PE-skool besoek oor bendegeweld

’n Skool in een van Port Elizabeth se bendegeteisterde gebiede, wat verlede week sy deure twee dae lank uit vrees vir die leerlinge se veiligheid gesluit het, het oënskynlik nou onder die aandag van die Oos-Kaapse premier gekom.

Luidens ’n polisieverklaring sal Oscar Mabuyane Dinsdag onder meer die Strelitzia Primary School in Bethelsdorp besoek en ook polisievoertuie aan die polisie se teenbende-eenheid by die skool oorhanding.

Clifton Jantjies, hoof van Strelitzia Primary School wat in Bethelsdorp, een van Port Elizabeth se bendegeteisterde gebiede, geleë is. Foto: Lulama Zenzile

’n Dag nadat skote vir die soveelste keer om die skool geklap het, het van die leerlinge se ouers na die skool opgeruk en geëis dat die hekke gesluit word.

Die skool was Donderdag en Vrydag gesluit sodat ouers en belanghebbendes met afgevaardigdes van die onderwysdepartement kon vergader oor ’n nuwe, hoër en veiliger grensheining of -muur om die skool.

Die onderwysdepartement het Donderdag teenoor Netwerk24 erken dat hy vroeër ’n nuwe heining aan die skool belowe het, maar dat die belofte weens ’n tekort aan geld nog nie nagekom kon word nie.

Clifton Jantjies, skoolhoof, het Maandag gesê die skool het soos beplan sy hekke Maandagoggend weer oopgemaak, maar net 70% tot 80% van die leerlinge het opgedaag.

Daar was wel ’n paar ouers wat voor die skool betoog het en steeds ontevrede met die veiligheid by die skool is.

Luidens die polisieverklaring sal Mabuyane Dinsdag met die gemeenskap en wetstoepassers vergader wanneer hy die metro se noordelike gebiede besoek.

Die premier sal na verwagting ook die Arcadia Secondary School in Arcadia besoek. Dié skool is enkele kilometers van Independence-straat, waar Reginald Neff (26) Saterdag doodgeskiet is.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het gesê onbekende mans het omstreeks 02:30 in die straat op Neff losgebrand. Hy is in die kop en boud geskiet.

Niemand is nog vir sy moord aangekeer nie.

Meer oor:  Oscar Mabuyane  |  Bethelsdorp  |  Bendegeweld  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.