Daar is ’n toename in plaasaanvalle in die Wes-Kaap en pres. Cyril Ramaphosa moet dringend ingryp en betrokke raak, het dit Maandag uit landboukringe opgeklink.
Dié pleidooi kom nadat Stefan Smit (62), ’n wynboer, Sondagaand op die plaas Louiesenhof buite Stellenbosch vermoor is.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: https://twitter.com/PresidencyZA/
Dié moord kom kort nadat Tool Wessels (55) op 13 Mei in Bonnievale vermoor is. Hy en sy vrou, Liezel (55), is deur vier verdagtes as gyselaar gehou. Hulle is vasgemaak en met kookwater gebrand en Liezel is in die bors gesteek.
AfriForum stel Dinsdag in Pretoria sy halfjaarstatistieke oor plaasaanvalle bekend en volgens Ian Cameron, hoof van landelike veiligheid van dié burgerlike organisasie, wys die statistieke op ’n toename in die getal plaasaanvalle in die Wes-Kaap.
“Wat veral kommerwekkend is, is dat dié soort aanvalle nooit in die Wes-Kaap gebeur het nie, en ewe skielik word mense gemartel en vermoor.”
Syfers van AfriForum toon dat daar landwyd tussen 20 en 35 plaasaanvalle per maand voorkom. Net in Mei vanjaar is daar 51 landwyd aangeteken.
In die Wes-Kaap was daar tussen 1 Januarie en 2 Junie vanjaar 18 plaasaanvalle waarin vier mense vermoor is.

Stefan Smit. Foto: https://www.louiesenhof.co.za/about/
Cameron het landelike gemeenskappe aangemoedig om verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te neem. “Gemeenskappe moet hulself in plaaswagte of buurtwagte organiseer. Dit is noodsaaklik dat hulle ’n kommunikasiestelsel soos ’n radiostelsel het om met mekaar te kan kommunikeer. In plekke waar gemeenskappe hulself op dié manier georganiseer het, is daar beslis ’n afname in die getal aanvalle.”
Tommy Esterhuyse, Agri SA se hoof van landelike beveiliging, het ook Maandag gesê daar is beslis ’n toename in plaasaanvalle in die Wes-Kaap en ook in Limpopo. Die Vrystaat loop ook erg deur. Die president moet volgens hom dadelik ingryp.
“Ons doen ’n beroep op pres. Ramaphosa om betrokke raak en in te gryp. Die kos wat aan sy kiesers verskaf word, kom van die landbouers af, kommersiële en opkomende boere. Hy moet nou ingryp en wys dat hy bekommerd is oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika,” het Esterhuyse gesê.
Die DA beplan om genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, te vra om dringend in te gryp.
Dr. Annelie Lotriet, DA-koukusvoorsitter, het Maandag met “groot ontsteltenis” verneem van die “koelbloedige” moord op Smit.
Sy het gesê die moord volg kort ná die moord op sowel Annette Kennealy (50), ’n voormalige DA-raadslid, as ander brutale aanvalle in Limpopo en elders die afgelope week. “Dit is onuithoudbaar en dit is duidelik dat die DA se beroep op die integrasie van landelike veiligheidseenhede op dowe ore val.”
Die VF Plus het op sy beurt gesê misdaad is lankal buite beheer in Suid-Afrika, maar gebeure oor die afgelope paar dae laat die “gevaarligte helderrooi flikker” oor die staat se onvermoë om die publiek te beskerm.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê Suid-Afrika stuur af op anargie. Die besetting van Kaapse plase, aanvalle op vragmotors landwyd en die vernietiging van treine en treinwaens in die Kaapse Skiereiland kan nie langer as geïsoleerde voorvalle afgemaak word nie.
Suid-Afrika betaal volgens Groenewald die duur prys vir die onbevoegdheid van politici en diegene in beheer. “Misdaad striem ekonomiese groei, en ’n swak ekonomie en gepaardgaande werkloosheid lei tot misdaad.”
Met verwysing na die moord op Smit, Wessels asook die moord Vrydag op Monica (68) en Basil Deniacos (79) in Dealesville in die Vrystaat, het Groenewald gesê dit is slegs enkele van talle moorde en aanvalle landwyd die afgelope weke.
“15 plase, waaronder die bekende wynlandgoed D’Aria by Durbanville, net buite Kaapstad, moes onlangs die hof nader vir bevele om besetters van hul grond af te kry nadat die EFF briewe versprei het onder werkers waarin mense aangehits is om grond te beset.”