Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
President rep g’n woord oor plaasaanvalle – TLU SA

Die landbou-unie TLU SA het laat Maandagaand sy kommer oor “die aansienlike toename in plaasaanvalle en plaasmoorde” in Suid-Afrika uitgespreek.

Henry Geldenhuys, adjunkpresident van TLU SA, sê in ’n verklaring dat die “aansienlike toename” ’n groot bron van kommer vir TLU SA is.

“Die nasionale moordsyfer van ongeveer 53 mense per dag is vir ons en ons lede heeltemal onaanvaarbaar. In Mei-maand alleen was daar 46 aanvalle en sewe moorde op plase. Junie 2019 het skaars begin en daar was alreeds vyf aanvalle en een moord op plase en plotte, stede en dorpe uitgesluit.”

Hy sê die TLU SA verwag dat daar op regeringsvlak, in die polisie en in die nasionale vervolgingsgesag iets daaraan gedoen word.

“In hierdie stadium swyg die president, sowel as die hele kabinet en veral die minister van polisie oor hierdie aanvalle.”

In hierdie stadium swyg die president, sowel as die hele kabinet en veral die minister van polisie oor hierdie aanvalle

Geldenhuys sê hy meen dit is die polisie se plig om wette soos die beskerming van eiendom, die bekamping van terrorisme, brandstigting, betreding, moord, verkragting en die aanhits van geweld toe te pas omdat daar ’n “algehele verval van wetsgehoorsaamheid in ons land is”.

Hy doen ’n beroep op die regering, die polisie en die NVG om binne die volgende maand ’n doeltreffende en werkbare oplossing te implementeer, en hy raai landbouers aan om hul veiligheid op te skerp.

TLU SA het vroeër die jaar statistiek uitgereik waarin hy aangedui het dat plaasaanvalle en -moorde van 2017 tot 2018 gedaal het.

Genl.maj. Chris van Zyl, adjunkhoofbestuurder van TLU SA, het toe gesê dat hoewel minder aanvalle aangeteken is, het veral diefstal van brandstof, chemiese produkte en veediefstal op plase gestyg.

“In 2018 is 382 aanvalle en 53 moorde op plase aangeteken. In 2017 het ons 423 aanvalle en 80 moorde aangeteken. Hierdie statistiek is gegrond op die polisie se definisie van ’n plaasaanval en plaasmoord.”

TLU SA het die verklaring uitgereik nadat Stefan Smit (62), eienaar en wynmaker van die plaas Louiesenhof buite Stellenbosch in die Wes-Kaap, Sondagaand in sy huis doodgeskiet is.

Lt.kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het gesê vier aanvallers wat toegang tot die huis verkry het, het Smit vermoor.

Stefan Smit, wat Sondagaand in sy huis op die wynlandgoed Louiesenhof doodgeskiet is. Foto: Facebook

Soos vroeër berig, is Smit se vrou, Zurenah, en ’n vriendin van die egpaar in die voorval vasgebind. Die lyfwag wat Smit in Augustus verlede jaar aangestel het om hom 24 uur per dag op te pas was in ’n ander vertrek.

Smit het ekstra veiligheidsmaatreëls ingestel weens dreigemente wat hy ontvang het.

“Ek weet nie wie so iets aan hom wou doen nie, maar ek sê vir jou dat dit ’n beplande moord was. Die aanvallers het verby die ander huise geloop en net vir Stefan doodgemaak, terwyl daar ander mense in die huis was,” het ’n vriend gesê.

Louisenhof
Die ingang na die Louisenhof-wynlandgoed Maandagoggend na die moord. Foto: Jaco Marais

Honderde plakkershutte is op 60 ha van Smit se grond opgerig. Die besetting het in Junie verlede jaar begin. Nadat hy hom tot die hooggeregshof gewend het, het hy

’n transaksie met die Stellenbosse munisipaliteit aangegaan om die stuk grond vir R45 miljoen te verkoop.

Gesie van Deventer, burgemeester van Stellenbosch, het Maandag gesê hulle wag nou net vir die oordrag van die eiendom om deur te gaan.

Intussen het Midas Winana, lid van die grondbesettersorganisasie Azanië, die moord ten sterkste veroordeel.

“Dit was beslis nie ons nie. Ons het geen rede gehad om mnr. Stefan seer te maak nie. Ons het dan geweet die munisipaliteit het die grond gekoop. Ons onderhandel met die munisipaliteit. Mnr. Stefan was nog altyd

net ordentlik met ons,” het Winana gesê.

’n Lugfoto van Smit se grond wat beset word. Foto: Pieter Venter

Meer oor:  Stefan Smit  |  Louisenhof  |  Misdaad  |  Rooftog  |  Plaasaanval  |  Plaasmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.