Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Pretoria-nagsluiper 'hardloop soos ’n spook’

“Hy het soos ’n spook gehardloop, vinnig en stil,” het ’n hawelose man gesê wat vermoedelik die eerste slagoffer van die sogenaamde “nagsluiper” in Pretoria was. 

Sedertdien is vyf ander haweloses in die Muckleneuk-gebied vermoor en nog een hawelose het ook die middernagtelike aanval op hom oorleef.

Die eerste van die vyf lyke is in die begin van Junie gevind. Die polisie sê al vyf slagoffers was middeljarige haweloses. Almal is in die nag vermoor. Hulle is na verneem word met ’n mes gesteek of met ’n swaar voorwerp geslaan, en soms gesteek en geslaan.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder in Gauteng, het bevestig dat twee haweloses wat die aanvalle op hulle oorleef het, nou ook die voorvalle by die polisie aangemeld het. 

Hoewel die polisie nie spesifiek sê dat die moorde die werk van ’n reeksmoordenaar is nie, word daar reeds van “die nagsluiper” gepraat.

Die haweloses beweer dat die aanvaller ’n balaklawa dra en sy slagoffers in die aand aanval terwyl hulle slaap. Hy tree glo alleen op.

Een van die haweloses wat die aanval op hom oorleef het, bly in Magnoliapark. Hy is in Mei aangeval en het aan News24 gesê hy vermoed hy was die eerste slagoffer van die sogenaamde nagsluiper. “Ek is gesteek terwyl ek geslaap het. Hy was stil en het net begin steek. Hy het niks gesê nie.”

Muckleneuk
'n Bebloede kombers en blou handskoen lê in die Magnoliadalpark waar die lyke van twee mans vroeër gevind is. Foto: Felix Dlangamandla

Die hawelose man het opgespring en skreeuend straat toe gehardloop. Die aanvaller het weggehardloop.

“Hy het soos ’n spook gehardloop, vinnig en stil,” het die man gesê.

Die hawelose, wat daarna in die Steve Biko- Akademiese Hospitaal behandeling vir verskeie steekwonde in sy linkerarm, maag en knie ontvang het, kan nie onthou hoe hy by die hospitaal uitgekom het nie.

Die hawelose gemeenskap van Pretoria het aangebied om die polisie te help om die lyke van hul vermoorde “broers” uit te ken.

Richard Wildeman, adjunkvoorsitter van die Tshwane-ondersteuningskomitee vir haweloses en self ’n hawelose, sê hy en sowat 40 ander haweloses in die gebied is gereed om die vyf slagoffers te identifiseer. Die mense is in verskillende dele van Muckleneuk vermoor.

“Ons het ’n groep bymekaargemaak om ons broers te identifiseer. Iemand sal hulle ken,” het Wildeman verlede week gesê.

Wildeman sê hulle is vol vertroue dat hulle die slagoffers se lyke sal kan uitken. Hoewel baie haweloses mekaar net op byname ken, glo hy die kanse is goed dat iemand die slagoffers se regte name en vanne ken.

“Daar is altyd een of twee mense wat mekaar ken, wat van dieselfde provinsie of woonbuurt kom en dan eindig hulle albei hier in Pretoria op en slaap saam op straat.

“As ons hulle sien, sal ons weet wie hulle is.” 

Min is oor die slagoffers bekend, hoewel een beskryf is as ’n vriendelike man wat hom meestal eenkant gehou het.

Niemand weet wat sy naam was, waar hy vandaan gekom het of hoe oud hy was nie. Hy het sowat ’n jaar in Magnoliapark in Muckleneuk gewoon.

Mense het gesê dat die man dikwels “eienaardig” opgetree het, maar dat hy stil en rustig was en later ’n bekende en vriendelike gesig in die park geword het. Hy was bekend aan die mense wat die park skoonmaak, die motorwagte en die personeel van die Huckleberry-restaurant in die park. - News24

Meer oor:  Muckleneuk  |  Pretoria-Nagsluiper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.