SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Misdaad
Private geld help staat dalk met vervolging

Die regering moet voortgaan met die plan om private skenkergeld vir strafregtelike vervolgings aan te wend mits die geld korrek bestuur word om konflik te voorkom. So sê die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan.

Adv. Shamila Batohi (links) in Mei vanjaar in die kantore van die NVG in Pretoria saam met adv. Hermione Cronje, hoof van die NVG se ondersoekdirektoraat. Foto: Gallo

Hy wys daarop dat die land se heel eerste hof vir gespesialiseerde handelsmisdaad meer as 20 jaar gelede as ’n gesamentlike projek tussen sakelui en die regering begin is.

“Die finansiering is op anonieme basis deur die organisasie Arbitration Foundation of Southern Africa betaal, met streng reëls dat die name van die skenkers nooit bekend gemaak sou word nie, om konflik te voorkom. Ek was daarby betrokke.”

Corruption Watch ondersteun O’Sullivan hierin.

Oudregter Johann Kriegler, wat Woensdagaand in Sandton geluister het toe adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, oor die probleme in die vervolgingsgesag (NVG) gepraat het, sê egter in beginsel is dit “ongewens”. “Dit is een van die fundamentele dienste wat ’n regmatige staat uit die staatskas behoort te kan lewer. Dat jy private finansiering nodig het om regspleging te bedryf of om die polisie of jou weermag aan die gang te hou, is ’n ernstige aanduiding van ’n kernswakheid in jou staatshuishouding.”

Begrotings-tekort van R77 m.

Vroeër vandeesmaand het Batohi aan LP’s gesê 600 vervolgers het die NVG sedert 2015 verlaat, en die instelling is nie in staat om die vakatures landwyd te vul nie.

Byna 89% van sy begroting word aan salarisse bestee, met ’n begrotingstekort van R77 miljoen in die 2018-’19-boekjaar. Dit kortwiek die NVG en sy ondersoekdirektoraat onder leiding van adv. Hermione Cronje se pogings om korruptes en staatskapers vinniger aan die pen te laat ry.

Ronald Lamola, minister van justisie, het verlede week gesê sy departement is in gesprek met die tesourie. Hy het benadruk al kry die NVG private geld, sal sy onafhanklikheid beskerm word. “Die NVG benodig geld om sy taak te verrig. As die fiskus dit nie het nie, moet private skenkergeld ons help. Maar hoe verseker ons die NVG word beskerm teen enige konflik? Finansiering moet geïsoleer word van die indruk van enige soort kaping van die NVG.”

Paul O’Sullivan

Hy het gesê as dit gebeur, moet dit in ooreenstemming wees met die huidige praktyk waarvolgens skenkergeld gebruik word om programme in die regering ondersteun.

Die Europese Unie staan regerings byvoorbeeld by met die bekamping van mensehandel. Lamola het ook verwys na Sakelui teen Misdaad se hulp met die vestiging van die handelsmisdaadhof. “Die kommer dat die skenker of private geld die NVG kan beïnvloed, is ’n werklikheid. Dis ’n siening waarteen ons moet waak en deurentyd moet bestuur,” het Lamola gesê.

O’Sullivan sê die gesamentlike projek met die handelsmisdaadhof het baie goed gewerk.

“Die belangrikste kwessie is die besluit om te vervolg. Die Grondwet is duidelik dat dié besluit slegs deur die vervolgingsgesag geneem kan word.

“Solank as die besluit geïsoleer word van die besluit oor hoe om die vervolging self te finansier, kan daar nie konflik wees nie. Maar as die NVG besluit om nie te vervolg nie, kan die slagoffer van die misdaad natuurlik ’n private vervolging instel.”

David Lewis, direkteur van Corruption Watch, sê as die skaarsheid van bronne vir vervolgings ’n groot struikelblok is wat deur private finansiering oorkom kan word, moet dit oorweeg word, “maar op ’n manier wat nie lei tot beïnvloeding nie”.

‘Nog geduld nodig vir regswiele’
Vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gaan dit nie net daaroor om wetsoortreders soos staatskapers in die tronk te kry nie, maar ook om die verlore geld terug te kry.
So sê adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, wat die Kader Asmal-menseregtelesing Woensdagaand in Sandton gelewer het.
Batohi, wat van 2000 tot 2009 KwaZulu-Natalse direkteur van openbare vervolging was, het uitgewei oor die “verdeelde en verswakte” NVG en strafregstelsel wat sy met haar terugkeer in Februarie gevind het. Sedertdien probeer sy die publiek se vertroue in die NVG en strafregstelsel herstel, maar dis nie maklik nie, het sy gesê.
“Korrupsie het so wydverspreid geraak dat daar ’n werklike gevaar is dat dit in Suid-Afrika gevestig en genormaliseer kan word.
“Te lank is korrupte politici, regeringsamptenare en sakeleiers straffeloos toegelaat om die skaars bronne van die land te plunder. En hulle het dit openlik gedoen, op die mees arrogante manier moontlik.”
Daar word bereken dat een derde van die land se bruto binnelandse produk (BBP) só verlore is.
“Ek weet Suid-Afrikaners is ongeduldig en wil die wiele van geregtigheid sien draai. Hul geduld gaan langer getoets word. Die strategie is om nie te veel te praat nie, maar met optrede te begin wat harder as woorde praat.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.