Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Private sekuriteit help nie

Die private veiligheidsbedryf en gemeenskapspolisiëring het met rasse skrede gegroei, maar slaag nog nie daarin om die gety van misdaad te keer nie.

Luidens ’n verslag wat AfriForum en die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) Dinsdag gaan uitreik, “Hoe om die oorlog teen misdaad in Suid-Afrika te wen: ’n Nuwe benadering tot gemeenskapspolisiëring”, word gemeenskappe aangemoedig om nog méér in private veiligheidsbedrywe betrokke te raak.

“Suid-Afrika is ’n besonder gevaarlike land,” lui dié verslag.

“Die publiek glo die staat is nie by magte om sy deel van die sosiale kontrak na te kom nie en dat die polisie nie toereikende beskerm bied nie.”

Die IRV se ontleding van polisiegetalle en die private veiligheidsbedryf wys hoe laasgenoemde soos paddastoele opgeskiet het, terwyl die polisiemag nie juis gegroei het nie.

In 1997 was daar een polisielid teenoor 367 lede van die publiek en teen 2014 was daardie syfer op een vir elke 353 mense.

In 1997 was daar een private veiligheidswag vir elke 351 mense en teen 2014 was die verhouding een tot 111.

AfriForum het in die afgelope vier jaar 80 buurtwagte oor Suid-Afrika heen begin. Agt van dié eenhede is in Bloemfontein, maar veral kleiner dorpies het ook begin om hul vrywilligers bymekaar te trek.

Dit is tot dusver nog moeilik om ’n positiewe uitwerking in die misdaadsyfers te sien, maar volgens Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid van AfriForum, is dié projek nog in sy babaskoene.

“Buurtwagte sal altyd ’n work in progress wees omdat jy met vrywilligers werk,” sê Cameron.

“Ons werk op die oomblik nog hard daaraan om formele bevel- en beheerstrukture hiervoor te skep. Dan gaan ons beslis begin resultate kry.”

Corné Cronjé, voorsitter van Vanderbijlpark se AfriForum-buurtwag, vertel hoe hy drie jaar gelede gehelp het om dié groep te begin. Ses mans in drie motors het twee woonbuurte begin patrolleer.

Vandag bedien hulle die hele Vanderbijlpark met 120 aktiewe patrollielede, ’n reaksiespan en ’n inbelsentrum.

Steeds het misdaad in dié drie jaar gestyg: Toe hulle in 2013 begin het, is daar 5 947 ernstige misdade aangemeld.

In die afgelope jaar het dié syfer van 7 536 tot 7 347 gedaal.

Cronjé verduidelik hoe dié kat-en-muis-speletjie werk: “Wanneer daar na een buurt gekyk word, word daar op ’n ander buurt toegeslaan. Wanneer ons snags patrolleer, gebeur inbrake bedags. Aanvanklik het misdadigers, veral inbrekers, nie sommer met wapens rondgeloop nie. Vandag dra amper elke inbreker ’n vuurwapen en stoot só die geweldsyfers op, want hulle skiet voor die voet.

“Toe ons begin het, was daar so twee of drie voorvalle ’n dag. Vandag is daar so ses of sewe voorvalle ’n dag.”

Vryburg se buurtwag het vier jaar gelede begin.

“Ons het dit van zero af opgebou en vandag bedien ons die hele dorp,” sê Rudi du Toit, voorsitter van dié buurtwag.

“Ons het 570 lede waarvan 300 aktiewe patrollielede is.”

Binne hul eerste jaar het misdaad van 2 054 voorvalle tot 1 829 voorvalle gedaal. In die afgelope jaar het dit egter van 2 036 tot 2 117 gestyg, maar twee jaar agtereenvolgens is daar net sewe moorde gepleeg.

“Hier is min geweld,” sê Du Toit. “Dit is meestal inbrake en diefstal wat ons misdaad so laat styg, want werkloosheid hier styg geweldig.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.