Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Probleme met DNS-toetse gee Cele ‘slapelose nagte’

Die enorme agterstand met DNS-toetse in die polisie se forensiese afdeling besorg hom “slapelose nagte”, sê Bheki Cele, minister van polisie.

“Net soos wat dit ’n nagmerrie is vir elkeen wat staatmaak op die polisie se laboratoriumdienste om geregtigheid en afsluiting te vind,” het Cele Dinsdagmiddag tydens ’n debat oor dié DNS-krisis in die Nasionale Vergadering bygevoeg.

Dié debat is as een van “nasionale openbare belang” deur Andrew Whitfield, DA-LP, aangevra.

Cele het daartydens erken dat die landwye agterstand in DNS-toetse tans op 208 291 sake te staan kom.

Bheki Cele Foto: Son

Dit het ’n enorme uitwerking op die afhandeling van hofsake rakende ernstige misdade soos moord en verkragting.

Volgens Cele is DNS-monsters van meer as 60 000 sake van die 208 291 reeds deur forensiese laboratoriums ontvang, maar nog nie geprosesseer nie. “36 626 is DNS-verwant en 82 000 is sake wat met geslagsgeweld en moord op vroue verband hou.”

Cele sê die grootste agterstand is in Gauteng, gevolg deur die Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

Hy sê dat hy ten volle met pres. Cyril Ramaphosa saamstem wat verlede week aan die parlement gesê het dat die DNS-agterstande “heeltemal onaanvaarbaar is”.

“Die polisie werk egter hard om dit uit te wis.”

Whitfield het gesê dat die DNS-agterstande nog nooit so erg was nie. Volgens hom is daar byvoorbeeld in Januarie en Februarie vanjaar nie ’n enkele DNS-monster geprosesseer nie, weens ’n gebrek aan verbruikersmiddele om dit te kan doen.

Hy het bygevoeg dat kritieke vakature in die polisie se forensiese afdeling weens ’n onderlinge twis tussen Cele en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, tesame met die “katastrofiese” wanbestuur van kontrakte, verantwoordelik is vir die agterstande “wat nou heeltemal buite beheer is”.

Volgens hom is Ramaphosa as staatshoof medepligtig aan dié “ongekende krisis”.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê dat die ANC se interne faksieprobleme, net soos die onmin tussen Cele en Sitole, eers bygelê moet word sodat daar op die land se belang gefokus kan word.

Die polisie werk egter hard om dit uit te wis.

Groenewald meen ook die agterstande is veroorsaak deur ’n gebrek aan middels om die DNS-toetse te doen, en dat dit kan vererger weens ’n regsgeding oor die intellektuele eiendomsreg van die digitale stelsel wat vir die DNS-toetsing gebruik word.

Cele het gesê dat hy en die polisiebestuur intussen ingegryp het om dringend ’n oplossing vir die krisis te vind. “Ek wil ook namens die polisie om verskoning aan slagoffers van misdaad vra vir die pyn en lyding wat die vertragings veroorsaak het.”

Volgens Cele het die agterstand veral sedert Junie verlede jaar begin opbou nadat die betrokke diensverskaffer sy dienste vir die digitale DNS-stelsel beëindig het en dit sedertdien per hand gedoen moes word.

Hy blameer ook swak bestuur, wat intussen vervang is, vir die gebrek aan verbruikersmiddele wat “bottelnekke” veroorsaak het.

Cele het bygevoeg dat hul ingryping egter daartoe gelei het dat sowat 42% van die dossiere van misdade teen vroue en kinders wat weens die DNS-probleem vir langer as ’n jaar uitstaande was, nou afgehandel is.

Alle geslagsgeweldsake word nou ook in samewerking met die nasionale vervolgingsgesag geprioritiseer.

“So word 77 485 sulke sake wat gereed is vir die hof, maar uitstaande DNS-resultate het, tans geprosesseer.”

Die doelwit is volgens Cele om die forensiese afdeling binne die volgende 18 maande te “normaliseer”.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Andrew Whitfield  |  Agterstand  |  Dns-Toetse  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.