Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Prof kry sy gesteelde tjello terug – pikswart

’n Oudrektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV) is vol hoop dat sy tjello wat gesteel en met swart spuitverf “gekamoefleer” is, herstel kan word.

Prof. Fourie speel sy tjello.

Prof. Frederick Fourie se 58 jaar oue tjello is dié week teruggevind nadat dit op Facebook geadverteer is.

Hy sê die Italianer Enzo Lassi het dit in 1961 gemaak. Dis in September verlede jaar gesteel en daarna geverf.

“Hoekom weet ek nie, maar ek raai dit was om die instrument te kamoefleer. Dit kan ook wees dat die man dit aan iemand in die rockmusiekwêreld wou verkoop.”

Dié lagie verf is nou sy grootste vrees.

“Die oorspronklike laag vernis by tjello’s en viole is ’n baie belangrike deel van die instrumente se klank. Iemand wat hierin spesialiseer, sal nou die verf moet verwyder, hopelik sonder om die vernis te beskadig. Op die ergste sal ons die vernis dalk moet oordoen, maar ek dink ons sal my tjello kan red.”

Die tjello nadat die dief dit geverf het.

Ná die diefstal het hy in ’n verklaring geraam die instrument is sowat R60 000 werd.

“Hy is waarskynlik baie meer werd, maar ek wou dit nie verkondig vir die dief se kennisname nie.”

Hy sê dit kan tot R100 000 werd wees, maar dis nie die geldwaarde wat hom ontstel het nie.

“Die tjello was die laaste geskenk wat ek by my oorlede ma gekry het. Ek was in st. 8.”

Fourie sê ’n 25-jarige student het die tjello glo ná ’n uitvoering deur die Vrystaatse simfonieorkes by die Odeion­teater op die universiteitskampus gesteel. Die man het einde verlede jaar ’n musiekdiploma behaal.

“Ons het ons instrumente ná die vertoning gelos en uitgestap om iets te gaan eet. Ek moes gasheer speel by ’n ander geleentheid en toe ons terugkom, was my tjello weg,” sê Fourie.

Sy musiekvriend Arend Brink het Maandag ’n advertensie vir ’n tjello op Facebook gesien en hom laat weet.

“Ek het dadelik my tjello herken. Die pen waarop die tjello staan as mens speel, is gedeeltelik van hout gemaak, wat seldsaam is. Selfs die kamoefleerverf het dus nie gewerk nie.”

Fourie is vol lof vir die polisie.

“Konst. Mokau van die polisie se opsporingseenheid, wat eintlik gekaapte voertuie en so aan soek, het dadelik aan die werk gespring en teen Donderdag het hulle die verdagte en my tjello in hul hande gehad.”

Vir eers bly dit in die polisie se besit.

“Dis nou ’n bewysstuk, maar ek sal dit seker later as die saak afgehandel is, terugkry.”

Lt.kol. Thabo Covane, ’n polisiewoordvoerder, sê die student verskyn môre in die hof.

Hannes Jacobs, ’n deskundige in die herstel van tjello’s en viole, sê daar is hoop, maar daar is gewis uitdagings wat wag om ’n geverfde tjello soos dié volkome te herstel.

“Die tjello kan herstel word, maar die probleem sal wees om die verf af te kry sonder om die lagie oorspronklike vernis te beskadig,” sê Jacobs.

Hy sê die feit dat die student spuitverf gebruik het en nie olieverf nie, is dalk goeie nuus.

“Spuitverf het ’n alkoholiese basis, wat dit effens makliker maak om te verwyder.

“ ’n Mens sal eers ’n klein kolletjie op die instrument moet kies en toets wat werk die beste om die verf te verwyder,” sê Jacobs.

Meer oor:  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.