Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Prokureur, pa en 10 ander steel glo vee uit boedel
Die 32-jarige prokureur en sy pa nadat die polisie hulle op heterdaad betrap het.

’n Pretoriase prokureur, sy pa en nog tien medepligtiges is Dinsdag in hegtenis geneem nadat die polisie hul beweerde planne om spore te maak met drie vragmotors vol vermoedelik gesteelde beeste gefnuik het.

Een van die vragte gesteelde beeste waarmee vermeende veediewe amper weggekom het.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, sê hulle het inligting ontvang van ’n onwettige “transaksie” om die beeste van ’n plaas naby Breyten te bekom.

Die beeste behoort aan ’n boer wat onlangs oorlede is en wie se boedel nog afgehandel moet word.

Die vee maak deel van dié boedel uit.

Dit blyk dat die tien mans die “verskaffers” was wat die beeste gesteel het en aan die prokureur en sy pa sou verkoop.

“Die Middelburgse veediefstaleenheid het ’n teen-operasie in ooreenstemming met die landelike veiligheidstrategie van die polisie rakende die beveiliging van landelike en plaasgemeenskappe beplan.

“Dit was nie die eerste keer dat daardie gemeenskap weens beesdiewe groot verliese gely het nie. Die veediefstaleenheid het dus ook ander eenhede, sowel as ’n private veiligheidsmaatskappy, Anti-Crime Security Unit, betrek,” sê Hlathi.

Van die verdagtes wat aangekeer is nadat hulle van die toneel gevlug het.

Hulle het toegeslaan terwyl die verdagtes besig was om ’n derde vragmotor, naas twee wat reeds vol beeste was, te laai.

“Van die verdagtes het gevlug, maar die prokureur (32) en sy pa agtergelaat. Die polisie het toe uitgevind dat twee (ander) mans en ’n vrou, wat die beeste opgepas het, oorval, vasgebind en aangehou is terwyl die verdagtes die beeste gesteel en gelaai het,” sê Hlathi.

Die polisie het op die toneel ook beslag gelê op die prokureur se bakkie, sowel as R95 000 kontant wat in hul besit was.

“Verdere ondersoekwerk het gelei tot die inhegtenisneming van nog tien mans, vermoedelik die ‘verskaffers’, wat van die toneel gevlug het,” sê Hlathi.

Die 12 verdagtes sal later die week op aanklagte van veediefstal en die besit van gesteelde goedere in die hof verskyn. Hulle bly tot dan in aanhouding.

Meer oor:  Vee  |  Veediefstal  |  Prokureur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.