Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hotelbaas dankbaar hy leef ná rooftog
Pedro Michaletos (72), eienaar van The Farm Inn in die ooste van Pretoria, het ’n gewapende rooftog oorleef. Foto: Isabel Venter

Hy is al oor die 70, maar kyk met nuwe oë na die lewe.

Pedro Michaletos (72), eienaar van die gewilde The Farm Inn in die ooste van Pretoria, sê hy is dankbaar sy lewe is gespaar in ’n gewapende aanval.

Met die blou merke en hale op sy arms nog sigbaar, het hy Dinsdag by die hotel vertel wat die vorige aand gebeur het.

“Ek dank die Here ek het dit oorleef. Dit kon net sowel gewees het dat ek dood hier uitgedra is.”

Hy het die dierepark en hotel meer as 40 jaar gelede begin toe die Silverlakes-area nog ’n woesteny was.

Dit is die eerste keer in die onderneming se geskiedenis dat daar ’n gewapende roof was. Die voorval het ongeveer 19:00 plaasgevind.

Twee verdagtes – ’n man en ’n vrou – het die hotel binnegekom as gaste en kontant vir hul kamers betaal.

Hierna het hulle vinnig werk gemaak daarvan om die bestuurder op nagdiens te oorrompel. Die verdagtes het die bestuurder toe gedwing om hulle na Michaletos se huis in die park te neem.

Nog ’n man en vrou het hulle hierna by die eerste twee verdagtes aangesluit. Intussen het ’n onbekende getal mense buite die hotel gestop, almal met glimbaadjies aan. Dié mense het aan die veiligheidswag gesê hulle is daar om ’n saak te ondersoek teen een van die gaste.

Ek dank die Here ek het dit oorleef. Dit kon net sowel gewees het dat ek dood hier uitgedra is.

Hulle het die wag met ’n vuurwapen oor die kop geslaan toe hy omgedraai het om die bestuurder te gaan roep.

Die wag is toe gedwing om die verdagtes te neem na waar die ander vier verdagtes reeds in Michaletos se kamer was.

Michaletos se hande is met kleefband vasgebind. Hy is herhaaldelik oor die kop geslaan met die agterkant van ’n vuurwapen dat die bloed loop.

Michaletos onthou net hoe die aanvallers oor en oor gevra het: “Where’s the safe, where’s the key?”

“En dan word jy getik oor die kop met die rewolwer . . . en ek het bietjie seer, maar dank die Vader ek het dit oorleef.”

Michaletos sê die aanvallers was onder die wanindruk dat daar miljoene toegesluit is in sy kluis. Dit is egter al vir jare nie die geval nie vandat daar oorbeweeg is na elektroniese betaalmiddele.

Die aanvallers het uiteindelik met die hele kluis – ’n klein kluis wat in ’n hangkas pas – op die vlug geslaan.

Dit was die bestuurder en veiligheidswag (hul name word weerhou uit vrees vir hul veiligheid) wat die paniekknoppie gedruk en hulp ontbied het.

“Hier was in ’n stadium amper 30 karre wat voor die hotel gestop het van die verskillende veiligheidsorganisasies in die omgewing om te kom help,” sê Michaletos.

Dit is onseker in watter rigting die verdagtes op die vlug geslaan het. Die eerste twee verdagtes het in ’n wit Suzuki Swift opgedaag.

Alle leidrade word nou opgevolg en veiligheidskameras in die gebied word nagegaan om na die verdagtes te soek.

En dan word jy getik oor die kop met die rewolwer . . . en ek het bietjie seer, maar dank die Vader ek het dit oorleef.

Millennium Body Guards is aangestel om die veiligheid by die park en hotel op te skerp.

“Ek wil my gaste die versekering gee dat hulle veilig is en ons nog steeds oop is vir besigheid,” sê Michaletos.

Die polisie in Gauteng kon nie dadelik die voorval bevestig nie.

Meer oor:  Farm Inn  |  Pedro Michaletos  |  Gewapende Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.