Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Pta-moord: 2de verdagte gesoek ná vrou (95) versmoor is
Hester (Babsie) Cowley (95)Foto: Facebook

Die polisie soek ’n tweede verdagte in verband met die moord op ’n 95-jarige vrou van Capital Park in Pretoria wat vermoedelik in haar woonplek met ’n plastieksak versmoor is.

Hester (Babsie) Cowley se lyk is op Vrydag 6 Desember in haar huis gekry. Dit blyk dat sy deur die loop van die nag vermoor en beroof is.

Johannes Cornelius Fourie (47), wat reeds die dag ná die moord aangekeer is, het Maandag in die landdroshof in Pretoria verskyn op aanklagte van moord en huisbraak met die opset om te roof.

Fourie se adres op die klagstaat is dieselfde as dié van Cowley in Flowerstraat, en hy was glo aan haar bekend.

Fourie het Maandag, geklee in ’n uitgerekte grys sweetpakbostuk, aan landdros Thandi Theledi gesê hy praat Afrikaans en wil van gratis regshulp gebruik maak.

Die landdros het aan Kagiso Rancho, die aanklaer, gesê sy merk daar is ’n vorm wat versoek dat Fourie in ’n polisiekantoor, pleks van ’n tronk, aangehou word.

Rancho het verduidelik dat die beskuldigde moontlik verbind word met nog ander sake, wat ondersoek en bevestig moet word.

Hy het bygevoeg dat die staat enige borgtogaansoek sal teenstaan en dat die staat reeds beskik oor ’n verklaring deur die ondersoekbeampte waarin verduidelik word hoekom Fourie nié ’n geskikte kandidaat vir borgtog is nie.

Die saak is vir later die maand uitgestel om vas te stel of enige sake hangend teen hom is en of hy enige vorige veroordelings het.

Volgens bronne is Fourie kort tevore uit die tronk vrygelaat. Dit is egter onbekend waarvoor hy in aanhouding was.

Hy was wel bevriend met Gerhard Papenfus, wat verlede jaar lewenslange tronkstraf vir nog ’n moord in Capital Park opgelê is.

Papenfus was saam met drie ander by die moord op Danie Dreyer (62), ’n oud-Springbokstoeier en -polisieman, betrokke. Dreyer se lyk is in April 2016 in ’n mangat naby Papenfus se huis gevind.

Meer oor:  Pretoria  |  Bejaarde  |  Versmoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.