Niemand moet op ’n straathoek teen die koronavirus ingeënt word of enigsins entstowwe probeer aankoop nie.
Geen “entstowwe” sal teen R150 per dosis op straathoeke verkoop of ingespuit word nie, en inentings sal net by gelisensieerde geriewe uitgevoer word.
Enigiemand wat vals entstowwe probeer verkoop, sal die polisie op hul spoor hê.
Die nasionale polisie en die Vrystaatse gesondheidsdepartement het die naweek ’n waarskuwing uitgereik teen mense wat onwettige Covid-19-inentings verkoop, terwyl gerugte oor inentings teen R150 per spuit die ronde in Bloemfontein doen.

Suid-Afrika het onlangs die tweede aflewering van die Johnson & Johnson-entstof by die O.R. Tambo-lughawe ontvang. Foto: Jairus Mmutle/GCIS
Kol. Brenda Muridili, nasionale polisiewoordvoerder, sê die polisie het dié waarskuwing uitgereik nadat 2 400 dosisse vals entstowwe en valse maskers ter waarde van R6 miljoen in November in ’n pakhuis in Germiston in Gauteng gevind is.
“Geen goedgekeurde entstowwe is tans aanlyn of fisiek beskikbaar om te koop nie. Enigiemand wat hierdie middels koop, plaas hulself in gevaar en gee geld vir georganiseerde misdadigers,” sê Muridili.
Dit het intussen aan die lig gekom dat inentings teen R150 in die nedersetting Turflaagte buite Bloemfontein aan inwoners verkoop word, het ’n gesondheidswerker van die nedersetting bekend gemaak.
Dié gesondheidswerker van die Lesedi Relief-sentrum sê daar is talle gerugte dat mense “entstowwe” naby die Engen-vulstasie vir R150 per inspuiting koop.
“Ons het ongelukkig geen verdere inligting hieroor nie.”
Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê hulle is nie bewus van entstowwe wat vir R150 verkoop word nie, maar sê die moontlikheid dat daar sulke kansvatters is, kan nie onderspeel word nie.
Mvambi meen mense wat inligting oor die verkope van hierdie vals entstowwe het, speel met ander mense se lewe.
“Mense wat vir inentings kwalifiseer, moet seker maak hulle kry slegs by die uitgewysde sentrums die entstof, want dit is net die regering wat gelisensieerd en gesertifiseerd is om mense in te ent.”
Dié gesondheidswerker van die Lesedi Relief-sentrum sê daar is talle gerugte dat mense “entstowwe” naby die Engen-vulstasie vir R150 per inspuiting koop.
Hy sê Vrystaters wat ywerig is om ingeënt te word, moet geduldig wees omdat gesondheidswerkers alleenlik nou ingeënt word.
Gesondheidswerkers word in hierdie stadium by die Universitas-, Pelonomi-, en Life Rosepark-hospitaal ingeënt, asook by die Bongani-hospitaal in Welkom en Fezi Ngubentombi in Sasolburg.
Hy sê mense moet bewus wees daarvan dat geen ander plekke inentings doen nie.
“Moet asseblief nie deur skelms geflous word nie,” het hy gesê.
Brig. Sam Makhele, provinsiale woordvoerder van die Vrystaat, sê daar word tot dusver geen gevalle oor die toediening van vals entstof ondersoek nie.
Die Vrystaatse regering het Sondag ’n wekroep op enigiemand met inligting oor die toediening van vals en onwettige Covid-19-entstowwe gedoen om na vore te kom en dit onmiddellik by die polisie aan te meld.
Mense met inligting oor individue of maatskappy wat Covid-19-entstowwe verkoop, moet dit by die polisie by 08600 10111 aanmeld.