’n Man is in Parklands, Kaapstad, in hegtenis geneem nadat dwelms ter waarde van meer as R1 miljoen by sy huis gekry is.
“Die polisie het inligting ontvang en opgevolg, waarna ’n lasbrief by ’n huis in Caterham Crescent, Parklands, uitgevoer is waar daar op kontant en kristalmetamfetamien beslag gelê is,” sê kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder.

Die dwelms waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf
Ruth Solomons, woordvoerder vir die metropolisie, sê hul bende-eenheid het inligting ontvang oor onwettige bedrywighede by die perseel en toe die bal aan die rol gesit deur die polisie te nader vir ’n lasbrief.
“Die beamptes het die huis deursoek en in een van die kamers op die dwelms afgekom. Tussen 6 kg en 8 kg se dwelms is in ’n kamer gevind. Dit het ’n beraamde straatwaarde van net meer as R1 miljoen.”

Die dwelms en geld waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf
Volgens Solomons is daar ook beslag gelê op sowat R224 000 in kontant.
Die 37-jarige man is in hegtenis geneem en bly in aanhouding by die Table View-polisiekantoor tot sy hofverskyning.