Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
R25 m. se perlemoen in O-Kaap gekry

Die Valke in die Oos-Kaap het in drie dae sowat R25 miljoen se perlemoen gekonfiskeer en vier Chinese burgers aangekeer.

Een van die groot potte waarin perlemoen gekook is by ’n huis in die Kamma Heights-woonbuurt in Gqeberha.

Kapt. Yolisa Mgolodela, Valke-woordvoerder, het bevestig die vier buitelanders en nog ’n beskuldigde is in polisieaanhouding. Hulle sal Maandag in die hof verskyn waar ’n datum vir hul borgtogaansoek vasgestel sal word.

Die massiewe vonds kom nadat ’n motorbestuurder verlede Woensdag in die Kinkelbos-gebied, sowat 50 km buite Gqeberha (Port Elizabeth), vasgetrek is terwyl hy perlemoen vervoer het.

Inligting op die Kinkelbos-toneel het ooreengestem met ’n perlemoen-vonds sowat twee weke gelede in Kensington en het die polisie na vier huise in die stad gelei.

Die Valke het in samewerking met Dark Water Ops, ’n private teenstropingseenheid, die polisie se honde-eenheid, asook amptenare van die departement van bosbou en visserye, ’n lasbrief bekom om een van die huise in die Walmer Downs-woonbuurt te deursoek.

Nicky Erasmus, bedryfsdirekteur van Dark Water Ops, sê in dié huis is perlemoen-verwerkingstoerusting gekonfiskeer en inligting bekom wat die owerhede na ’n tweede huis in die gebied geneem het waar nog verwerkingstoerusting gevind is.

Erasmus sê hierna het hulle op ’n huis in die Kamma Heights-woonbuurt toegeslaan, waar ’n groot klomp perlemoene aangetref is.

Dit was glo in groot kookpotte, terwyl reeds gekookte perlemoen in ’n bad gekry en nog perlemoen op droograkke gelê het.

Verdere inligting het die owerhede na ’n huis in die Walmer Heights-woonbuurt gelei waar sowat 1,5 ton se gedroogde perlemoen gekonfiskeer is.

Van die perlemoen wat op droograkke aangetref is.

“In totaal is 1,5 ton se nat perlemoen en sowat 3 ton se gedroogde perlemoen gekonfiskeer. Vyf mense is in hegtenis geneem, drie voertuie is op beslag gelê en bakkievragte vol bewysstukke is na die polisie se bewyskantoor aangery,” sê Erasmus.

Hy vermoed die beskuldigdes het ’n onderneming bedryf wat perlemoen van plaaslike perlemoen-smokkelaars aankoop, verwerk en na die Chinese mark uitvoer.

Hoewel verdere ondersoekwerk nog gedoen moet word, dui die aantal toerusting daarop dat die onderneming minstens ’n jaar lank bedryf is.

Erasmus beskou dit as ’n groot slag teen perlemoensmokkelaars aangesien dit die afsetpunte vir perlemoensmouse verklein.

“Die soort deurbrake maak die markte ook skrikkerig en mense begin wegbeweeg. Daar is nog markte wat bedryf word, maar dit is een van die grootstes in die Oos-Kaap en sal die smokkelbedryf ’n knou gee.”

Meer oor:  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.