Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
R8,7 m. se dwelms vir McCarthy afgelewer

Die dwelms waarvoor Jerome McCarthy (47) Vrydag in Kaapstad in hegtenis geneem is, het ’n geskatte straatwaarde van sowat R8,7 miljoen.

McCarthy is die ouer broer van Benni McCarthy (43), voormalige Bafana Bafana-sokkerspeler en Cape Town City-afrigter.

Hy is by sy huis in Bosbokstraat in Klipkop, Parow, vir dwelmhandel in hegtenis geneem en het Maandag in die landdroshof in Bellville verskyn, waar hy op borgtog van R100 000 vrygelaat is.

Sy inhegtenisname kom nadat speurders verbonde aan die Valke in die Wes-Kaap en Gauteng se dwelmeenheid inligting ontvang het van ’n aflewering van 250 000 Mandrax-tablette wat by ’n adres in die nywerheidsgebied naby die Kaapstad Internasionale Lughawe afgelewer sou word.

Jerome McCarthy, ouer broer van Benni McCarthy, wat Maandag in die landdroshof in Bellville op borgtog van R100 000 vrygelaat. Foto: Facebook
Van die Mandrax-tablette waarop die Valke Vrydag beslag gelê het. Foto: Verskaf
Die bokse waarin die 250 000 Mandrax-tablette na Kaapstad vervoer is. Foto: Verskaf

Die dwelms is uit Germiston na Kaapstad gestuur.

Die speurders in die span het die voertuig, wat die dwelms vervoer het, onderskep. Hulle het uiteindelik slegs sowat 1 000 van die Mandrax-tablette na McCarthy se huis met die koerier aangestuur.

Volgens die bronne het McCarthy met die koerier se aankoms by sy huis met die vragbrief na buite gekom om die “pakkie” in ontvangs te neem. Hy is glo in hegtenis geneem kort nadat hy daarvoor geteken het en dit in sy besit geneem het.

Die bronne het gesê die polisie het toe reeds al geruime tyd naby sy huis gewag vir die koerier om op te daag.

Jerome McCarthy (47), wat voorheen vir Manning Rangers in Durban en Santos in Kaapstad uitgedraf het, is nou die eienaar van McCarthy Sports, ’n sportagentskap vir sokkerspelers. Hy het in sy borgtogaansoek gesê dat hy al die afgelope 15 jaar saam met sy vrou en twee kinders, waarvan een minderjarig is, by die adres in Parow woon.

Hy het gesê dat hy voor sy minderjarige dogter in hegtenis geneem is en dat hy bang is dat hierdie voorval ’n langdurige traumatiese effek op sy kinders kan hê.

Hy het gesê sou hy in aanhouding bly, kan dit sy gesondheid aantas omdat omstandighede in tronke, met inagneming van die Covid-19-pandemie, nie gunstig vir enige mens is nie. Volgens sy borgtogaansoek verdien hy sowat R29 000 per maand.

McCarthy het ook gesê dat hy geen vorige of hangende sake of enige uitstaande lasbriewe teen hom het nie.

Hy is van plan om onskuldig op die aanklagte teen hom te pleit.

McCarthy is in 2003 vir ’n jaar uit sokker geskors nadat hy skuldig gepleit het vir die gebruik van ’n verbode middel.

Die saak teen McCarthy is tot 25 Februarie vir verdere ondersoek uitgestel.

Zinzi Hani, Valke-woordvoerder, het die voorval bevestig en gesê dat dit ’n gesamentlike operasie tussen speurders verbonde aan die Valke in die Wes-Kaap en Gauteng was.

Meer oor:  Jerome Mccarthy  |  Dwelmhandel  |  Dwelms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.