Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Raadslid se kantoor in Motherwell aan die brand gesteek

’n Raadslid van die Nelson Mandelabaai-metro se kantoor is Maandag tydens ’n betoging in Motherwell aan die brand gesteek.

Geen beserings is aangemeld nie, maar die raadslid van wyk 56 se kantoor, ’n omskepte vraghouer, se kantoormeubels en lugreëlaar is beskadig.

Mambalu Mgcokoca sê haar kantoor was omstreeks 10:00 in ligte laaie nadat een van die vensters gebreek en iets soortgelyks aan ’n petrolbom in die kantoor gegooi is.

’n Gedeelte van die R335 in Motherwell is Maandagoggend met brandende buitebande, klippe en lamppale versper. Foto: Lulama Zenzile

“Ek weet nie wie hiervoor verantwoordelik is nie, maar dit hou waarskynlik verband met die betoging wat om 03:00 in Addoweg (R335) begin het.”

’n Gedeelte van die R335-pad by die Motherwell-kruising was Maandagoggend etlike ure lank gesluit terwyl buitebande in die pad gebrand is. Groot klippe en straatlamppale is gebruik om die pad te versper.

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, sê ’n groep van sowat 50 betogers het die pad versper. Die polisie het twee skokgranate afgevuur om die skare uitmekaar te dryf, maar geen inhegtenisnemings is gemaak nie.

Sake van brandstigting en kwaadwillige skade aan kritieke infrastruktuur word ondersoek.

Die betoging hou verband met inwoners van die Ramaphosa- informele nedersetting wat glo op terugvoering wag van hul versoek om hervestig te word.

’n Polisiebeampte probeer die vlamme van ’n brandende buiteband blus. Foto: Lulama Zenzile
’n Motoris word Maandagoggend deur betogers gewaarsku dat die pad gesluit is. Foto: Lulama Zenzile

’n Inwoner, wat anoniem wil bly, het aan Netwerk24 gesê hulle wil in ’n veiliger gebied hervestig word omdat hulle onder kragdrade woon wat ’n veiligheidsgevaar is.

Mgcokoca sê sy is bewus van die inwoners se versoek en probeer al geruime tyd ondersteuning aan hulle bied. ’n Vergadering is verlede Woensdag met gemeenskapskomiteelede in haar kantoor gehou waarna die komitee terugvoering binne drie dae geëis het.

Volgens Mgcokoca het sy reeds amptenare van die grondbeplanningsdepartement gekontak, maar het sy nog terugvoering nie.

Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, het ondanks herhaalde navrae teen Maandagmiddag nog geen kommentaar gelewer nie.

Meer oor:  Motherwell  |  Nelson Mandelabaai  |  Betoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.