Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Raadslid van Stellenbosch van verkragting aangekla

Die Stellenbosch-munisipaliteit ondersoek een van sy raadslede nadat dit bekend geword het dat dié raadslid van verkragting aangekla is.

Die DA-raadslid, wie se naam aan Netwerk24 bekend is, mag nie geïdentifiseer word totdat hy op die aanklagte teen hom gepleit het nie.

Die saak spruit uit ’n voorval toe die klaer op 20 Maart saam met vriende na ’n restaurant in Stellenbosch is, maar die restaurant verlaat en drank by ’n ander winkel gaan koop het.

Die groep is toe na ’n parkeerterrein in Khayelitsha en het tot sonsondergang daar gebly. Daarna is hulle na die raadslid se huis toe.

Luidens haar beëdigde verklaring was sy moeg en het sy koud gekry, en het daarom in ’n bed geklim om te slaap. Dit was nie die raadslid se bed nie.

Geklee in ’n frokkie en broekie het sy onder die komberse gaan lê en dadelik aan die slaap geraak.

Luidens haar verklaring het sy gedink sy droom toe sy gevoel het iemand raak aan haar, maar sy het besef dit is wel iemand wat aan haar vat. Sy het aan die persoon gevoel en glo agtergekom dit is die raadslid.

Sy het in haar verklaring gesê hy het aan haar geslagsdeel begin vat. Sy het begin skree, maar die raadslid het haar na bewering verkrag terwyl hy ’n kombers styf oor haar mond gedruk het.

Luidens haar verklaring het hy van haar afgeklim toe hy besef het sy is nie aan die slaap nie.

Toe die vrou later by die huis kom, het sy aan ’n derde persoon vertel dat sy verkrag is.

Die klaer het op 24 Maart ’n verklaring by die polisie afgelê.

Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die eenheid vir gesinsgeweld in Kuilsrivier ondersoek die saak.

Van Wyk het gesê die beskuldigde is op 25 Maart in hegtenis geneem en het in die Blue Downs-landdroshof verskyn.

Die saak is tot 4 Junie vir verdere ondersoek uitgestel en die beskuldigde is op borgtog vrygelaat.

Intussen het Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, bevestig die raad is bewus van dié voorval nadat dit by hulle aangemeld is.

“Die saak is na die speaker se kantoor verwys vir verdere ondersoek,” het Grobbelaar gesê.

Die raadslid sal ingevolge die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels se gedragskode vir raadslede ondersoek word.

“Die strafsaak en interne ondersoek duur voort,” het Grobbelaar gesê.

Hy het gesê die munisipaliteit is ten sterkste teen enige vorm van misbruik gekant.

Meer oor:  Raadslid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.